Paulus noem ons kleipotte wat maklik breek.
In 2 Korintiërs 4:7 sê hy: “ Ons wat hierdie skat in ons het,
is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref,
kom dus van God, nie van ons nie.” Dit is belangrik om die
hele gedeelte van vers 7-15 deur te lees.
Hierdie gedeelte beklemtoon baie belangrike waarhede oor
ons as gelowiges. Ons is: Heelgemaaktes. Heiliges.
Ons moet dit besef en daaruit leef.
Verder beklemtoon dit:
Ons is gebreekte kleipotte uit wie God se lig skyn – vers 7.
Leonard Cohen het gesing: “There is a crack in everything,
that’s how the light gets in.” God se lig kom deur krake in,
en dit is die lig in ons wat donker verdryf. Maar dit maak ons
ook bewus van wat God gesê het: “Laat daar lig skyn uit die
duisternis” – vers 6. God laat die lig van sy liefde deur jou lewe
skyn om die donkerte in ander se lewens te laat verdwyn.
Ons is in hierdie lewe op baie maniere onder druk, maar ons
gee nie op nie – vers 8a. Scott Peck begin sy beroemde boek
“A Road Less Travelled” met hierdie woorde: “Life is difficult”.
Baie mense sal sê “ons weet dit”. Maar ons vergeet dit so maklik.
“Life is difficult!” moenie dit vergeet nie. Paulus beklemtoon dit
in hierdie bogenoemde gedeelte. Tog weet ons as kinders van
God ons is nooit alleen nie. Daarom dink ons nie eers daaraan
om tou op te gooi nie. Ons weet Christus gee ons krag!
Ons is soms radeloos, maar nooit sonder hoop nie – vers 8b.
Soms weet ons regtig nie wat om in ‘n moeilike situasie te doen
nie. Maar ons twyfel nooit daaraan dat ons wel iets kán doen nie.
Ons leef uit die lewende hoop wat ons in die opgestane Christus het.
Ons word vervolg deur mense, maar God laat ons nooit in die steek
nie – vers 9a.Mense is juis die wat ons die seerste maak. Ons moet
onthou dat God ons nooit in die steek sal laat nie, maak nie saak wat
mense doen nie. Psalm 27:10: “Al sou my vader en moeder my
verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.”
Ons word platgeslaan, maar nooit uitgeslaan nie – vers 9b. Ons kan
rondtes verloor, maar kinders van God verloor nooit die geveg nie,
want die oorwinning in Christus is reeds behaal, en ons is meer as
oorwinnaars! Romeine 8:37 “Maar in al hierdie dinge is ons meer as
oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.”
Ons dra die sterwe van Christus in ons liggaam, sodat ook die lewe
van Christus sigbaar kan word in ons liggaam – vers 10.
Ons gebrokenheid lê in die sterwe, die kruis, en ons is heelgemaak
in die opstanding van Jesus! “Wie in My glo sal lewe, al het hy ook
gesterwe.”
Leef as nuwe mens! Jy is heelgemaak!
Ernest