Reeds in die begin sê Genesis 1:27: “God het die mens geskep
as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep,
man en vrou het Hy hulle geskep.” En dan kom herskep God weer
die mens om aan die aanvanklike skeppingsdoel te kan beantwoord:
“Ons almal weërspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier
is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan
die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons
uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”
Die mens is die hoogtepunt van die skepping. Die mens sou God
verteenwoordig! Na sy beeld geskep! Dit laat ons besef dat ons
nie aldag mooi onthou Wie ons in hierdie skepping verteenwoordig
nie. Of ons nou op aarde leef, of op die maan land, of op pad is Mars
toe, ons verteenwoordig God. Maar ons verteenwoordig bo alles vir
God by ander mense!
Besef ons werklik die verantwoordelikheid hiervan? Maar ook die
voorreg! Die rabbi’s het die Jode geleer elke keer as ‘n mens in die
straat afstap, gaan engele vooruit en roep: “Maak pad! Maak pad!
Maak pad vir die beeld van God!”
Psalm 139:14 sê: “Ek wil U loof want U het my op ‘n wonderbaarlike
wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.”
Die feit dat ons na die beeld van God geskep is, kry voorrang bo die
feit dat ons sondaars is wat gered moet word. Daarmee ontken ons
nie ons sonde nie, maar sê dat Genesis 1-2 ons hoofstorie bly,
en nie Genesis 3 nie. Jesus kom verlos ons van ons Genesis 3 storie,
van sonde, en herstel ons sodat ons weer ons Genesis 1-2 storie as
beeld van God en verteenwoordiger van God kan uitleef!
Die feit dat elke mens na die beeld van God gemaak is, gee aan
elke mens sy regte waardigheid en waarde, bestemming en vryheid.
Daarom, as beelddraer van God, verdien élke mens oneindige respek
en moet ons elke mens só behandel.
Geen mens is net ‘n nommer, of ‘n middel tot ‘n doel nie!
Die feit dat elke mens na die beeld van God gemaak is, dui ook op
elkeen se ware bestemming wat God in gedagte het. Hy wil hê dat
elke mens gered sal word en tot kennis van die waarheid kom.
In hierdie feit, dat elke mens na die beeld van God gemaak is, lê die
egtheid van elke mens se vryheid. Die vryheid wat God hom of haar
gee om te kies. Dit is juis wat die Heilige Gees heeltyd in ons lewe wil
doen! Die Heilige Gees help ons in hierdie keuses. Kyk weer wat sê
2 Kor. 3:18: “...Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds toe.
Dit doen die Here wat die Gees is.” Dit is die Heilige Gees wat ons
heerlikheid laat toeneem en ons “al hoe meer verander om soos die
Here te lyk...” – Nuwe Lewende Vertaling.
So beoefen ons die opstanding, saam met Jesus, tot die nuwe lewe,
in die lewe hiér en noú! Verteenwoordig Hom!
Lyk al hoe meer soos die Here!
Ons is mense van die opstanding, wat saam met Jesus uit die dood
opgestaan het tot die ware lewe. Kom ons leef as beeld van God.
As verteenwoordiger van God. Kom ons behandel ook elke mens
as beeld van God.
Ernest