Die Bybel leer ons om nie slegter of beter oor onsself
te dink nie, maar rég oor onsself te dink. Wie is ek?
Ek is wie ek is! Beeld van God! Kind van God!
Volgeling van Jesus! Inderdaad, wat ek voor God is, ís ek!
Dit gaan dus gladnie oor selfverbetering nie, maar oor oorgawe,
sodat die Heilige Gees wat in my woon, my kan verander om
soos Jesus te leef en so meer en meer die beeld van God te vertoon.

God die Heilige Gees sien ons soos ons moet wees: Beeld van God.
Nuwe mens in Christus. Hierdie ware transformasie deur die Heilige
Gees, is om ons karakter te verander om opmerklik anders te lyk,
naamlik om net soos Jesus te lyk en net soos Jesus te leef.
Dallas Willard stel dit so: “Spiritual transformation in Christ
moves towards a total interchange of our ideas and images for His.”
Dit is ‘n leefwyse! ‘n Leefwyse wat ‘n enorme verskil maak!

‘n Minister van ‘n kommunistiese party het by geleentheid oor
die toelating van kerke in ‘n ateïstiese samelewing gesê:
“Christenskap is geen bedreiging nie, solank jy dit beperk tot een
maal ‘n week. Dit is net wanneer dit ‘n leefwyse word, dat die
owerhede dit met alle mag wil uitroei.”

Om soos Jesus te leef is ‘n totale leefwyse wat alles insluit.
Die integriteit daarvan lê daarin dat jy soos Jesus leef,
ook as jy alleen is! Dit behels al jou denke, woorde en dade.

Die eerste teken van ware transformasie deur die Heilige Gees,
met ander woorde om ál méér die beeld van Jesus te vertoon,
is dat jou lewe verander van minagting of haat na liefde,
liefde vir alle mense en bo alles vir God!
Die tweede teken is dat jou lewe verander van ‘n lewe van vrees,
na ‘n lewe van vryheid! 1 Joh. 4:18: “Waar liefde is, is daar geen
vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees...”
Die derde teken is dat jou hele lewe ‘n getuienis word. Jy word
‘n lopende Woord van God in lewende lywe. Jy haal nie net tekste
aan nie. Jy lééf dit!

Ons moet geduldig wees in ons groei. Geestelike transformasie is
‘n lewenslange proses. Paulus het dit met sy eie lewe beklemtoon,
en ook gesê. Die transformasie proses van Jesus-volgelinge is soos
om agurkies te maak...
Dit is ‘n inlê proses wat tyd en moeite en toewyding vra.
Eers moet jy gesonde en goeie agurkies kry en uitsoek. Dan moet jy
die pekelwater-en-asyn oplossing maak. Daarna moet jy die agurkies
daarin inlê. Jy kan dit nie net daarin doop en uithaal nie. Dan moet
jy geduldig wag vir ‘n proses wat elke dag besig is om plaas te vind.
Vir ses weke lank wag jy, geduldig, dat die agurkies in ‘n “pickles”
verander. ‘n Stadige proses. Stadig en onmerkbaar dring die oplossing
die agurkies binne en verander dit in heerlike “pickles”!
So is die transformasie deur die Heilige Gees ook ‘n proses wat
lewenslank aanhou. Meer en meer soos Jesus!

Andries Cilliers beskryf dit so: “Ons het nie ‘n slim logika of algemene
waarheid of tydlose beginsels nodig om God se wil te probeer verstaan
nie. Ons het nodig om deur God verander te word, sodat ons wil wat
Hy wil! In dié proses is ons nié passiewe ontvangers nie. Ons leef aktief
daarin mee. God doen dit, ja, van begin tot einde is dit sy werk, maar
Hy doen dit ín ons. Hy leer ons glo, maar dis óns wat glo. Hy eis ons op
deur sy Woord, maar dis óns wat onsself vir Hom gee. Hy verander ons,
maar dit is óns wat verander.”
Daarom: Stel jouself tot beskikking van God vir lewenslange verandering.
Dit is die een ding in die lewe waarin ons hoegenaamd nie bang is vir
verandering nie! Want God doen dit!

Ernest