Wie of wat sien God in die mens wat voor my staan?
Fred Rogers het gesê: “The older I get, the more convinced I am
the space between communicating human beings is sacred ground.”
Wanneer ons voor enige iemand staan, staan ons voor ‘n skepsel
van God, geskep na sy beeld, vir wie Jesus aan die kruis gesterf het,
omdat God hierdie persoon oneindig liefhet. Ons staan op heilige grond.
Waar mense saam is, is God teenwoordig! Sien daardie mense, elke een,
soos God hom of haar sien.

Wanneer jy met enige mens te doen het, vra jouself altyd die vraag in
Filippense 4:8 af: Wat is waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig
in die persoon wat voor my is? Dit sal jou help om heeltemal anders na
enige mens te kyk. Daarom soek ons as Jesus-volgelinge altyd die goeie
in ander mense en doen die goeie aan hulle. Jesus het vir almal gekom,
het almal lief, het vir almal gesterf en opgestaan!
Vir Jesus was daar nie randfigure nie.

Al verloor ‘n roos sy kleur, bly dit steeds ‘n roos.
Al gaan ‘n mens deur wat ookal, of al doen ‘n mens wat ookal,
hy of sy bly steeds die beeld van God.
Ronald Paterson moes vir sy opleiding as predikant in die Boston City-
hospitaal werk. Hy moes in die saal vir gevangenes werk. Een van die
gevangenes was ‘n berugte dwelmhandelaar. Ronald het teenoor ‘n
Rooms Katolieke non bely: “Hoe kan ek bid vir iemand wat mense se
lewens verwoes? Hy verdien sy siekte en eintlik baie meer as dit!”
Die non het geantwoord: “Paterson, wie het gesterf en joú tot God
verkies? Wat is die verskil tussen jou en hierdie persoon?
Net God se genade. Iewers diep binne in hierdie man, bedek deur
slegte dinge en lae pyn, is daar ‘n vonkie van die beeld van God.
Jou enigste taak is om in gebed daardie vonk raak te sien en daarom
vir hierdie man te bid. En die enigste manier om dit raak te sien is om
jou vooroordeel te los en met jou hele hart te glo dat God hierdie
mens wil red. God vra dat jy sal bid dat hierdie vonk ‘n vuur word van
die beeld van God. Hy, nes enige iemand anders wat jy sal ontmoet,
is die beeld van God vir wie Jesus gesterf het.
Hanteer hom dienooreenkomstig.”

Elke mens voor ons, is die beeld van God. By elke mens staan ons ook,
saam met daardie mens, voor God. Op heilige grond.
Sien wie God voor jou sien.

Ernest