Ons leef in ongekende tye in die wêreld. Met ongekende gevolge.
Groot uitdagings word aan die mensdom gestel. Ons word gedwing
om weer grondig te besin oor die sin van die lewe. Gelowiges en
ongelowiges. Groot uitdagings word aan ons as indiwidue gestel in
terme van ons hele lewe. In hierdie opsig onthou die meeste van ons
die bekende Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat
my krag gee.” Ek is tot alles in staat. Dit beteken ten diepste dat geen
omstandighede te veel is vir God nie, want jy is in sy hand.
Daarom kan geen omstandighede ooit die oorhand oor jou kry nie.

Hoekom nie? Omdat jy as kind van God twee soorte krag het:
Paulus sê dat ons aan die een kant die krag ervaar vir alledaagse
situasies. “Ek is tot alles in staat...” Dit is die krag van oorwinning oor
die aansprake van die alledaagse lewe. Maar aan die ánder kant is dit
duidelik dat so ‘n krag beslis van ‘n ander Bron af kom:
“...deur Hom wat my krag gee.” Dit is van begin tot einde God wat die
krag gee. Ons is net in staat tot alles wanneer ons in Hom is wat die
krag gee. Ons is in Christus. Ons leef in Hom en Hy in ons.
Daardeur weet ons dat ons totaal afhanklik van Hom is.

Dit laat ons besef: dit help nie jy gaan sit op die ashoop van die lewe
as die lewe buitengewoon hard druk nie. Selfs as jy alles verloor het,
soos ‘n Job. Die res van jou lewe saam met die lewende God lê voor!
Paulus skryf aan die Filippense hierdie bogenoemde woorde terwyl
hy in die haglike tronk-omstandighede sit. En dit bring ons by vers 4
wat hy uit hierdie omstandighede skryf:
“Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”
Loop oor van vreugde! Ons het al by ‘n vorige geleentheid gepraat
oor hoekom dit moontlik is... “...in die Here!”

Kom ons kyk na ‘n ander aspek hiervan: Humor! Ons moet óók lag.
Ons móét lag. In donker tye het ons humor nodig. Ons raak te maklik
opgestres en dan is alles pikdonker. Op ‘n bakkery se venster het
hierdie advertensie verskyn:
“Remember, stressed spelled backwards says desserts!”
Lag is die poeding van die lewe. Soos iemand gesê het:
“Seven days without laughter makes one weak”. Klein kinders lag
bykans 400 keer per dag, en volwassenes moet blykbaar 50 keer per
dag lag om gesond te bly! Hoeveel lag is daar in jou lewe.

Een van die groot tekens van die aanwesigheid van die Bose, is die
afwesigheid van humor! Billy Sunday het gesê: Die duiwel kan nie lag
nie omdat hy geen humorsin het nie.
Lag, want die opstanding is God se lag na die trane van die kruisiging.
Met humor, die lewende bewys dat lewe in jou bruis, voel jy ook dat
jy tot alles in staat is deur Hom wat jou krag gee.
Iemand het die beeld geteken van twee vroue wat met emmers by
‘n waterput sit en gesels. Die een vrou het hartseer en bitter gesê:
“Die lewe is verskriklik. Elke keer as ek die emmer vol maak, is dit
binne minute leeg soos dit opgebruik raak. Die ander vrou, met vrede
op haar gesig, het met ‘n glimlag geantwoord: “Ek dink die lewe is
wonderlik. Elke keer wanneer die emmer leeg is, kan ek dit eenvoudig
weer hier kom vol maak.” Ons val in hierdie tweede kategorie.
Ons is tot alles in staat deur Hom, die Bron van die lewenswater,
waar ons weer en weer kan gaan skep, wat ons die krag gee.

Henry Ward Beecher het gesê: “’n Mens sonder humor is soos ‘n
motor sonder vere. Op die ongelyke pad van die lewe word hulle
deur elke klippie rond-gestamp.”
Anoniem het gesê: “Geseënd is hulle wat vir hulleself kan lag,
want hulle sal altyd iets hê wat hulle amuseer.”
As dit nie so was dat God ook ‘n sin vir humor gehad het nie,
sou Hy mos nie vir ons die kosbare gawe van humor en lag gegee
het nie. Ons moet lag! Ons moet regtig in alles óók lag!

Ernest