Baie Westerse kinders leef in hul kultuurkonteks soos grootmense.
Vol programme, min speel en rus.
Hoë druk op prestasie.
En so verloor ons die gawes van verwondering,
stories vertel, en selfs geloof.
Ons raak verleë met Kersfees, want dit is by uitstek ‘n kinderfees.
‘n Kinderfees wat ook volwassenes soos kinders vier!
Boomversierings, kersgeskenke, kersliedere, liggies,
‘n kinderlike welwillendheid,
alles in die gees van kindwees.
Met Kersfees word ‘n Kind die simbool van ewige hoop,
en Hy kom tree as die Boodskapper van versoening op.
Hy kom wikkel die mens los uit die wanhoop van verlorenheid,
waarin hy homself vasgedraai het.
Die Nuwe Testament tel die tema van ‘n Kind sterk op.
Jesus word dié Kind,
wat ons in ‘n wêreld inlei waar die onmoontlike gebeur:
Vrede regeer!
In die wêreld van ‘n kind is die onmoontlike moontlik.
En nou moet die wêreld die koninkryk van God soos ‘n kind ontvang.
Kan ons nie hierdie Kersfees weer soos ‘n kind na die wêreld kyk nie.
Selfs in die donkerste omstandighede skep kinders ‘n wêreld waarin alles heel is.
‘n Wêreld wat volwassenes nie meer sien nie,
want hulle ontvang God se koninkryk nie soos ‘n kind nie.
Met kersfees tree mense so kinderlik op,
dat hulle amper optree soos God hulle bedoel het om te wees.
Eugene Sterner het vertel hoe‘n dogtertjie dit aan ‘n maatjie verduidelik het:
“Kersfees is daardie dag toe God by die trappe van die hemel afgekom het,
met ‘n Babatjie in sy arms!”
Ons probleem is dat ons opnuut met Kersfees die vrede soek waarvan dit vertel,
maar ons soek nie die Vredevors in ons lewe nie……Jesaja 9:5.
Ontvang weer die Here as Vredevors!
Ontvang Hom soos ‘n kind in jou lewe!
Ernest