Romeine 15 :13: “Mag God, die bron van hoop,
julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul
sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag
van die Heilige Gees.” Hierdie is ‘n merkwaardige woord,
wens, of gebed!

Dante het gesê om sonder hoop te wees, is hel!
Daar is nie iets soos hopelose situasies nie. Daar is slegs
mense wat sonder hoop raak oor situasies. Die probleem lê
nie by situasies nie, maar by mense. Ons moet weer ontdek
wat Christelike hoop is sodat ons kan bely – nie waar daar
lewe is, is daar hoop nie, maar waar daar hoop is, is daar lewe!

Hoop is ‘n deur. In Hosea 2:14 sê die Here “...Ek sal die Akor
laagte ‘n poort na ‘n nuwe toekoms maak.” Die 1953 vertaling
het gesê “’n deur van hoop.” Akor laagte was ‘n riller storie vir
elke Jood. Dit is waar Akan en sy hele gesin tydens die intog in
Kanaän gestenig is, nadat hy van die goedere wat in Jerigo
geneem is, gesteel het. Sy diefstal het 36 Jode hul lewens gekos
toe hulle Ai aangeval het. Josua 7:5 sê die volk se moed was
gebreek. Die Akor laagte was Israel se moedverloor-vlakte.
Nou sê God dat Hy hierdie plek die deur van hoop gaan maak!
God maak in doodloop-situasies deure oop! Openbaring 3:8 sê
ook ‘n deur wat God oopgesluit het, bly oop. God bly deure
van hoop oopmaak!

Hoop is ‘n helm. 1 Tessalonisense 5:8 sê ons moet die hoop op
verlossing as helm dra. So kan ons angs en vrees en moedeloosheid
weerstaan. Omdat ons seker is dat ons toekoms in God se hande is,
volgens 1 Tess. 5:9. Die helm van hoop beskerm ons in enige sitasie.

Hoop is ‘n anker. Hebreërs 6:19: “Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige
en onbeweeglike lewensanker...” Geen storm kan ons skei van God
se liefde nie. Daar is ‘n anker! Jesus het hierdie anker vasgemaak aan
die troon van God. Dit is onmoontlik om dit los te maak.

God is in beheer. Hoop beklemtoon dat ons die lewende God aanbid.
Daar is ‘n werklike toekoms in hoop. God se toekoms! Dit is ‘n
versekerde toekoms. Augustinus het geglo dat hoop die beste van
die drie deugde is: Geloof vertel dat God bestaan. Liefde vertel dat
God goed is. Maar hoop vertel ons dat God doen wat Hy belowe het!

‘n Ou gelowige dame is deur ‘n jong vrou besoek. Die jong vrou het
gesê: “Jy ly baie.” Die ou dame het haar hande uitgesteek en gesê:
“Sien jy. Daar is geen spykermerke nie. Hy het die spykermerke,
en ek het die hoop. Sien jy hier op my kop. Hier is geen doringkroon
nie. Hy het die dorings gehad. Ek het die hoop.”

Leef!...met hoop!

Ernest