1 Korintiërs 15:54b-55: “Die dood is vernietig,
die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning?
Dood, waar is jou angel?” En dan vers 57: “Maar ons dank God
dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.”

Ons weet alles gaan eindig...Maak nie saak hoe oud ons word nie,
die persentasie van mense wat doodgaan is steeds 100%. Maar,
ons weet ook verseker van die oorwinning oor die dood, in die
opstanding van Jesus Christus uit die dood, en ons opstanding
saam met Hom! Jesus sê in Johannes 11:25-26:
“Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe,
al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle
ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” Daarom, sê Paulus, het die
dood geen oorwinning meer nie, geen angel meer nie. In Jesus
Christus het ook jy die dood reeds oorwin. Glo jy dit?

Ons kan leef asof hierdie lewe ons enigste lewe is, en die dood
uiteindelik die pretbederwer is. Dan heers die dood. Of jy kan jou
lewe vir God gee, en totaal en al vir Hom leef. Dan besef jy dat die
dood net ‘n pynlike maar geseënde deurgang is, na die plek waar
ons lewe in oorvloed voortgaan!
Geen wonder nie dat die vroeë kerk op Paassondag grappies vertel
het om vir die wêreld te wys dat met Christus se opstanding die dood
vernietig is. Die oorwinning is behaal. Die duiwel het gedink hy het
aan die kruis oorwin...maar die opstanding is die bewys:
Wie laaste lag, lag die lekkerste!

Ons kan gerus weer met elke Paassondag en daarna ligvoets deur
die wêreld leef! Die skoenlapper is onder andere ook ‘n erkende
kerk-simbool vir die opstanding. In hierdie opsig is dit merkwaardig
dat kinders wat in die Nazi-konsentrasiekampe aangehou is,
en gewag het vir die gaskamers, kindertekeninge op die mure geteken
het. Een motief wat oor en oor gevind is was die van skoenlappers.
Geteken te midde van die wêreld se ergste kruisigings.
Die dood is en word oorwin!

Die oorwinning oor die dood impliseer dat jy voluit leef, want jy weet
dat die lewe nie hier ophou nie, maar in oorvoed van léwe aangaan!
Daarom leef jy met HOOP hier op aarde! Onthou jy die woorde van
Andy in die fliek “The Shawshank Redemption”, waar hy in die
gevangenis in die donker gat, in afsondering, aangehou is:
“I guess it comes down to this: Get busy dying, or get busy living.”

Jesus is die opstanding en die lewe! Glo in Hom, en jy sal lewe,
al sterwe jy ook. Glo jy dit? Dit laat jou leef! Hoop laat jou leef!
Ons sê: Waar daar lewe is, is daar hoop. Nee, dis andersom:
Waar daar Bybelse hoop is, is daar ware léwe!

Ernest