Hoop bring lewe! Ons sê: Waar lewe is, is hoop.
Dit is eintlik andersom: Bybelse hoop bring lewe!
Daarom: Leef voluit...tot jy doodgaan! Christene is
mense wat besig is om só te leef dat hulle Carl Jung
se vraag met ‘n groot “ja” kan antwoord: “Wie het ooit
daarin geslaag om die volle beker van God se genade op
te drink?” Ja!...wie kon dit ooit doen? Leef voluit van God
se genade tot jy doodgaan! Leef voluit...tot jy doodgaan!
In hierdie opsig laat hoop jou leef! Hoop laat jou regtig lééf!

Immanuel Kant het gesê jy moet jouself die volgende drie vrae
vra om die lewe te hanteer: Wat kan ek weet? Wat kan ek doen?
Wat kan ek hoop? Almal sterf, maar nie almal léwe nie. Hoop laat
jou leef!
Die Prediker het al ingesien dat die lewe ‘n gawe van God is,
in Prediker 2:24-25.
Ferdinand Deist het hieroor gesê: “Omdat die lewe ‘n gawe van God is,
hét die lewe sin! Die lewe het sin omdat die lewe sy anker in God het.
‘n Mens hoef nie te hoop dat jy aan jou lewe sal kan sin gee nie.
Dit is daar! Die lewe het inherente sin. Jy moet dit net ontdek.”
Daarom is dood nie die einde van lewe nie. Die anker is in God! Die
probleem is nie die dood nie, maar dat mense dood is terwyl hulle lewe.

Wanneer ons doodgaan, skryf Paulus, word ons “tent” liggame vervang
met “gebou”-liggame. Wat vir ewig nie siek, moeg of oud kan word nie.
Daarom is dit volgens Leonard Sweet nodig dat Christene “the art of dying
well” moet bemeester. Hy noem dit ook “the art of happy endings”.
Hy stel die volgende voor:
1.Besef dat jy nie vir altyd leef nie. Maak elke dag ‘n verskil met jou lewe.
Jy gaan net een keer by hierdie oomblik in jou lewe verby en kry dit nooit
weer terug nie. Wees ‘n “memory maker”.
2.Maak jou dood ‘n “teachable and godly moment” vir die wat agterbly en
jou verlies gaan voel. Waarop kan hulle voortbou op wat jy agterlaat in
terme van die sin van die lewe?
3.Maak jou verlede reg. Tel alle los drade op. Vergewe en vra om vergifnis.
Doen dit so gou moontlik. Dit gaan jou meer ten volle laat leef, terwyl jy leef.
4.Vertel jou stories oor jou en God. Hoe geloof jou lewe gee, om voluit te lééf!
5.Seën jou familie en vriende. Gary Smalley en John Trent het ‘n boek geskryf
met die titel “The Blessing”. Die boek begin met die woorde: “No matter your
age, the approval of your parents affects how you view yourself and your
ability to pass that approval along to your children, spouse, family, and
friends. Many people spend a lifetime looking for this acceptance the
Bible calls...the blessing!” Seën hulle doelbewus met jou opregte seënwense
vir hulle, uit jou hart. Begin nou al daarmee.
6.Praat oor jou toekomsverwagting en die hemel met jou geliefdes. Oor hoe
jy uitsien en wat jy dink daar wag vir jou. Kyk hoe merkwaardig het Paulus
dit ook gedoen in byvoorbeeld Filippense 1:20-26. Dit laat die vuur van hoop
hoog brand en gee baie vrede aan hulle wat agterbly as jy gaan.

Onthou, mense gaan eintlik dood soos hulle geleef het.
Bedoelende, jou dood word die uitdrukking van alles wat jy is,
en na jou dood kan jy slegs dit bring wat jy na jou lewe gebring het.
Ons as Christene kan so leef dat daar van jou gesê sal word:
Jy het altyd gedink dit is belangriker hóé jy jou lewe leef, as hoe lánk jy leef.
Leef met hoop. Hoop bring lewe!

Ernest