Dit is merkwaardig om te dink dat God ons sy kinders gemaak het.
Kinders van God! Dit is ons! Romeine 8:14-17 verduidelik dit.
Vers 14 sê: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders
van God.” Vers 15 sê dit is persoonlik, ‘n Vader-kind verhouding:
“...julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en
wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.” Dan gaan
vers 17 nog verder en sê ons is volledig erfgename van God, net soos
en met dieselfde erfporsie as Jesus! Vers 17: “En omdat ons kinders is,
is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met
Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan
sy heerlikheid.”
Besef ons enigsins wat dit beteken om deel te wees van hierdie familie,
die familie van God. 1 Timoteus 3:15 praat van ons as “die huisgesin van
God”. Dit is wonderlik. Dieselfde Griekse woord wat Jesus beskryf as God
se kind, word ook ten opsigte van ons gebruik as God se kinders!
As jy daaraan begin twyfel wil die Heilige Gees jou oortuig dat jy volledig
kind van God is – vers 16. Die familie van God is ook veel meer as net ‘n
gewone familie. Coenie Burger verduidelik dit so:
God se familie is anders in die omvang van ons liefde vir mekaar.
Ons aanvaar mekaar en het mekaar lief ten spyte van verskille.
God se familie is anders in ons openheid na mense buite die geloofsfamilie.
Ons is nie ‘n familie ter wille van onsself nie, maar ter wille van die wêreld.
God wil steeds sy familie laat groei en die Here wil “...elke dag mense wat
gered word by die gemeente voeg” - Hand. 2:47. Die geskiedenis het gewys
dat die uitsonderlikheid van Jesus se volgelinge hulle openheid was.
God se familie is alles behalwe ‘n eksklusiewe klub. Gasvryheid is ‘n eienskap
van God se familie. God se familie is ánders, in ons bereidheid tot
selfverloëning en diens. Ons leef nie vir onsself nie.
Tog het ons as familie van God ook ‘n geskiedenis van mislukkings.
Maar God roep ons om weer en weer sy wil te doen. Ons moet weet dat die
familie van God nie volmaak is nie. Net God, die Vader Seun en Heilige Gees
is volmaak. Daarom het ons valse hoop as ons die volmaakte sou hoop vir
God se familie, die kerk, naamlik húlle wat aan God behoort.
Valse hoop sou wees:
‘n Hoop vir geen spanning nie: Dit is te wagte dat ons moeite sal hê om te
doen wat ons moet doen in hierdie wêreld.
‘n Hoop vir geen verskille nie: Ons het mekaar lief ten spyte van ons verskille.
In ons verskille groei ons meer en het meer perspektiewe.
‘n Hoop vir geen kritiek nie: Opbouende kritiek is nodig. Dit is die “weet alles”
kritiek wat ons opsy kan skuif.
‘n Hoop vir geen woede nie: Ons kan vir mekaar kwaad word solank dit gaan
om God se eer en nie ons eie eer nie.
‘n Hoop vir geen swakhede nie: Ons is vergeefde sondaars, maar nie gevrywaar
van foute nie. Net God sien volmaak.
‘n Hoop vir geen ongehoorsaamheid nie: Ons sonde bly ‘n realiteit. Hoe goed
weet ons dit nie.
‘n Hoop vir geen uitbundige en selfs “snaakse” of humoristiese optrede nie:
Ons het dit nodig, en dit laat ons dans wanneer die wêreld stilsit.
‘n Hoop vir geen mislukkings nie: Ons gaan foute maak. ‘n Nuwe begin is elke
keer by God beskikbaar. Dit noem ons genade!
“Broers en susters” is nooit bedoel as hoog kerklike taal nie. Dit is wat die
Bybel ons noem. Dit is eg, permanent, en beskrywend van wie jy is.
Jesus roep elkeen van ons om sy broer en suster te wees. So maak Hy
broers en susters van almal wat na Hom toe kom. God se familie!
Wat ‘n genade om deel van hierdie familie te wees! Lééf so!
Ernest