Het genade al jou lewe ingrypend verander?
Word die manier waarop jy lewe gekenmerk deur die oorvloed
van genade in jou lewe? Romeine 5:20-21 word in The Message
soos volg vertaal: “All that passing laws agains sin did, was produce
more lawbreakers. But sin didn’t, and doesn’t, have a chance in
competition with the aggressive forgiveness we call grace. When it’s
sin versus grace, grace wins hands down. All sin can do is threaten us
with death, and that’s the end of it. Grace, because God is putting
everything together again through the Messiah, invites us into life –
a life that goes on and on and on, world without end.”
Johannes 1:16 sê immers: “Uit sy oorvloed het ons almal genade op
genade ontvang.” Genade is veel groter en meer as sonde.
Geen wonder The Message praat van “aggressive forgiveness” nie!
Dit is die kern van die evangelie. As die Here in jou lewe inkom, werk
God se genade onbeperk ‘n nuwe lewe. Hierdie genade kan jy nie
opgebruik nie. “When it’s sin versus grace, grace wins hands down”,
sê The Message.
Thomas Merton het gesê: “’n Gelowige is nie iemand wat beter is as
ander nie; hy of sy verstaan of ervaar net die goedheid van God beter.”
Ons is skatryk! Ons moet net die genade van God besef en regtig intens
daaruit leef. Ons ontvang genade op genade – Joh. 1:16. Tel jou seëninge.
Tel hul een vir een. Dit sal maak dat jy uit ‘n oorvloedsmentaliteit begin
leef. Jy sal ‘n genade uitdeler wees.
‘n Boer wat jaar na jaar die prys gewen het vir die beste koring het ‘n
onderhoud aan ‘n verslaggewer toegestaan. Die verslaggewer het uitgevind
dat die boer ook sy goeie saad met sy bure deel! Hy was oorbluf want die
bure het ook vir die kompetisie ingeskryf. Hy wou weet hoekom die boer dit
dan doen? Die boer het geantwoord: “Die wind versprei die stuifmeel van die
rypwordende koring van land tot land. As my bure swak koring produseer,
sal die kruisbestuiwing ook my koring se kwaliteit stelselmatig verlaag.
Ek moet my bure help om ook goeie koring te produseer. Die wind van genade
waai oor ons almal.”
Genade! Murray Janson het gesê: “God boer met genade!”
Genade glo in oorvloed, nie in suinigheid nie. Hoe meer genade jy uitleef,
hoe meer het jy om uit te gee. Wanneer jy genade opgaar, verloor jy alles.
God hoop nie sy genade op nie. God seën ons met genade op genade!
Genade het jou ontmoet waar jy was, en jou nie daar gelos nie.
Daarom moet genade uitdrukking vind in jou lewe self, anders is dit nie
genade nie – Karl Barth.
Ons slegste dae is nooit so sleg dat ons buite God se genade val nie,
en ons beste dae is nooit so goed dat ons nie meer God se genade nodig
het nie. Leef uit God se genade, en leef God se genade uit!
Ernest