Kolossense 3:13: “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar
as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het,
moet julle mekaar ook vergewe.”
Mense word vasgedruk deur hulle sondes en het die intense begeerte
om daarvan vry te kom. Een van die grootste geskenke wat ons van
God kan ontvang is vergifnis. Dit maak jou vry! Vergifnis vertel jou van
God! God wil vergewe en wil ‘n nuwe begin gee. Hou daarom op om
met jou skuldgevoelens rond te loop. Gaan na Hom toe!
Kolossense 3:13 vertel egter ook van die twee kante van vergifnis.
Die hele Bybel vertel dit. Omdat God jou vergewe moet jy ook ander
vergewe. Hoe kan ons ander vergewe?
Walter Wangerin deel dit op in stappe om ons te help:
Stap 1. Wees realisties. Wie en wat moet ek vergewe? Fokus op die
gebeurtenis en wie jou seergemaak het. Vergifnis het altyd ‘n gesig.
Lug jou gevoelens. Moenie dit onderdruk nie, maar doen dit met
selfbeheersing. Onder leiding van die Heilige Gees.
Stap 2. Jy moet van jou eie vergifnis bewus wees voordat jy ander
kan vergewe. Ons besef hoeveel keer ons self al genade en vergifnis
van God ontvang het. Hierdie waarheid is ‘n gelykmaker. Jy ontdek
dat jy net so ‘n sondaar is as die ander persoon wat jou vergifnis
moet ontvang. Jy het juis die vermoë om te vergewe omdat jy
vergifnis by God ontvang het!
Stap 3. Dit is die moeilikste stap. Offer jou negatiewe gevoelens en
weerwraak gedagtes op in gebed by God. Daarmee word jy bevry
van bitterheid. Vergifnis hou nie boek van die kwaad nie.
Stap 4. Vergewe met eerlikheid en opregtheid die persoon wat jou
seergemaak het. Sê dit doelbewus vir die persoon, al dink daardie
persoon steeds hy of sy was reg en jy is verkeerd.
Stap 5. Volg dan jou woorde op met dade. Jou gedrag moenie
aanhou om die persoon te straf nie. Leef jou vergifnis uit.
Onthou, vergifnis maak die een wat vergewe heel eerste vry!
Ons is vergewe om vry te wees, sodat ons ander kan vergewe
om ook hulle vry te maak. Ontvang God se vergifnis, en deel dit uit!
Ernest