Ons is vergewe om ander te vergewe.
Vergifnis maak ook die een wat vergewe heel eerste vry.
Dit is egter so dat sekere mense ons teen die mure kan uitdryf,
of oor die afgrond. So voel ons oor hulle. Ons word egter deur
die Woord van God gelei om óók húlle te vergewe. Ons kan nie
kies wie ons wil liefhê of vergewe nie. Jesus het gesê dat ons
selfs ons vyande moet liefhê! Jesus maak dit nóg moeiliker deur
te verduidelik dat dit presies is wat God met ons gemaak het!
Martin Niemöller, ‘n Duitse predikant wat deur die Nazi’s in die
tronk gegooi is, het gesê: “God is nie die vyand van my vyande nie.
God is nie eens die vyand van sý vyande nie.”

Daarom hanteer Jesus volgelinge mense eenvoudig anders as wat
die wêreld doen. Die Griekse woord “agape” beteken baie meer as
net liefhê. Dit beteken die vermoë en die mag om mense lief te hê
waarvan ons nie hou nie, én wat ook nie van ons hou nie. Net die
Here kan ons daarmee help, en Hy doen dit ook!

C. S. Lewis het ‘n vriend belowe dat hy na sy vrou en dogtertjie sou
kyk as die vriend in die oorlog sou sterf. Die vriend het in die Eerste
Wêreldoorlog gesterf. Lewis het sy belofte gehou. Hy het alles in sy
vermoë gedoen om dit goed te doen. Ten spyte daarvan het die vrou
deurgaans onbeskof, ondankbaar en arrogant teenoor Lewis opgetree.
Hy het haar deurgaans vergewe, tot die verbasing van ander mense.
Hy het haar aanhou vergewe en nie toegelaat dat haar optrede hom
sou verhoed om sy belofte na te kom nie. Die Here help ons!

Daar is ‘n ou Ierse seënbede wat so klink: “May God bless those who
love us. And those who do not love us, may He turn their hearts.
And if He does not turn their hearts, may He turn their ankles so we
may know them by their limping, forgive them and pray even more
for them.”

In die fliek “No Mans Land” sê ‘n soldaat: “Elke keer as ek in ‘n soldaat
van die ander weermag se oë gekyk het, het ek geen vyand raakgesien
nie, net nog ‘n medemens wat na die beeld van God gemaak is.”
Ons kan nie mense oorgee aan die genade van God en self geen genade
bewys nie.

Wanneer ons vergewe laat ons ‘n gevangene vry, en ons ontdek dat
die gevangene wat ons vrygelaat het onsself is!
Ons is nêrens meer soos die beeld van God as waar ons opreg liefhet
en vergewe nie. Daarin is ons hoogs sigbaar as beeld van God!

Ernest