2 Korintiërs 5:17-18: “Iemand wat aan Christus behoort,
is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met
Homself versoen...”

Versoening volg altyd op vergifnis. Daar kan egter wel ook
vergifnis wees, sonder versoening. Ons kan dink dat vergifnis
nie eg is sonder versoening nie. Maar dit is nie so nie.
Die betekenis hiervan is deur Lewis Smedes verduidelik in
“Art of forgiving”: Hy sê dit neem een persoon om te vergewe,
maar twee persone om te versoen. Vergifnis vind plaas ín die
verwonde persoon, en versoening vind plaas tússen die persone
ter sprake. Jy kan iemand vergewe, al sê die persoon nooit hy of
sy is jammer nie. Maar ons kan nie versoen as die persoon nie
opreg jammer is nie. Jy kan selfs iemand vergewe, selfs al is jy nie
seker of die persoon jou weer kwaad sal doen nie. Maar versoening
kan slegs plaasvind as jy die persoon vertrou om jou nié weer kwaad
aan te doen nie.

Ons moet altyd gereed wees om te vergewe. Maar versoening beteken
om ook die verkeerde reg te stel, as jy kan. As ek jou pen gesteel het en
ek sê ek is jammer, dan moet ek die pen teruggee, as ek kan. Dan kan
versoening plaasvind. Maar vergifnis van jou kant af kan plaasvind,
al hou ek die pen. As jy my vergewe, maar ek hou die pen, is versoening
moeilik. Versoening hang van die vergeefde persoon af.

Dit help ons om God se genade beter te verstaan. In die verhaal van die
verlamde man in Markus 2, wie se vriende hom deur die dak laat sak het,
word sy sonde deur Jesus vergewe!...sónder dat hy gesê het hy is jammer.
Dit laat ons die wonderlike genade van God beter verstaan. Hy vergewe
ons nog voordat ons sê ons is jammer. God neem die inisiatief!
Daar word die idee by ons as gelowiges gelaat dat, éérs wanneer ons om
vergifnis gevra het, ons vergewe is. Dit is verkeerd. Want Christus het
rééds vir die vergifnis van ál jou sonde gesterf.
Die belangrike is: Versoening vind nou plaas tussen jou en God wanneer
jy kom sê jy is jammer. Dit is juis wat met die verlore seun gebeur het,
in Lukas 15. Die pa wat hom rééds klaar vergewe het, het gewag vir sy
terugkeer, en toe hy terugkom en sê hy is jammer, is daar fees gevier!
Hierdie gelykenis vertel juis van óns terugkeer na God!
Omdat ons opreg jammer is, vind versoening plaas as gevolg van wat
Jesus rééds aan die kruis vir ons gedoen het!
Hoe wonderlik is God se genade en vergifnis!

Ernest