Nadat God my met Homself versoen het, stuur Hy my uit
met die bediening van versoening wat Hy aan my toevertrou.
1 Kor. 5:18-19: “Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur
Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van
die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening
bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself
versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie.
Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.”
Ons kan nie die versoening bewerk nie. Versoening is alleen
God se werk. Hierdie boodskap van versoening moet ons uitdra.
Die woord wat Paulus gebruik vir “bediening” laat ons dink aan
die werk van ‘n hedendaagse kelner. Wat deur die kelner bedien
word, is deur die sjef voorberei. Die kelner kan jou vertel van die
disse, want hy het al daarmee te doen gehad, dit geproe en kan
daarvan vertel. Maar hy het dit nie geskep en voorberei nie.
Versoening is altyd God se werk. Daarom is versoening tussen
mense altyd moontlik. Ons moet dit net bedien.
God roep ons na die plek waar ons diepste dankbaarheid lê.
Dit is dat Hy jou met Homself versoen het. En dan stuur Hy ons
na die wêreld om daardie versoening te gaan bedien aan mense
wat honger en dors daarna. Ons is net soos kelners wat ander
bedien met die vergewende en versoenende liefde van Jesus
Christus. Niks wat ons van ons kant af kan doen, kan Jesus se
versoeningsdaad meer volledig maak nie. En ons hoef ook nie.
Sy versoening wat aan die kruis bewerk is, is volmaak.
Jesus se hele lewe, van begin tot einde, was die volgehoue poging
om die mure tussen God en mens, en mens en mens af te breek.
Kom ons gaan bedien hierdie versoening van God,
tot redding van elkeen wat daarin glo.
Ernest