Dikwels is dit vir mense moeilik om regverdigmaking van
ons as sondaars te verstaan omdat ons dink ons moet self
iets daaromtrent doen. In ‘n wêreld waar ons vir alles moet
werk en vir alles moet betaal, dink ons ook ons moet ons eie
heil bewerk. Kom ons kyk eers wat sê die Bybel.
Romeine 5:1 sê: “God het ons dan nou vrygespreek omdat
ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur
ons Here Jesus Christus.” En Romeine 8:1: “Daar is dus nou
geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”

Die woord vir “jy is geregverdig...vrygespreek” is “regverdiging.”
Dit is die lewe deur die geloof, uit genade alleen.
Martin Luther sê hieroor: “Die grond onder ons voete en die anker
in ons lewe is dat Christus ons enigste én perfekte regverdigmaking
en vryspraak is.” Ons kan absoluut niks doen om ons te regverdig
voor God nie. As jy nie verstaan dat God jou in Christus geregverdig
het nie, jou in Christus vrygespreek het nie, probeer jy alles in jou
vermoë om God tevrede te stel, en Hom tevrede te hou, sodat jy in
die hemel kan kom. Regverdigmaking beteken dat God klaar alles
gedoen het om jou te red! Om aan jou ewige lewe te gee.
Al wat jy moet doen is om dit te aanvaar. Jou rekord is skoon!
Dit is wat dit beteken om geregverdig te word.
Daar is geen rekords wat teen jou gehou word nie.

Johannes Calvyn het gesê: “Waar dit gaan oor regverdigmaking van
die sondaar moet ons heeltemal vergeet van die wet, óf van ons goeie
werke, en ons moet enkel en alleen op God se genade vertrou.
Ons moet ons oë heeltemal wegdraai van onsself af en besef dat ons
niks kan doen om onsself te regverdig nie. Ons moet slegs vir Jesus
raaksien, en wat Hy ter wille van ons doen om ons te regverdig.”

Ons is vrygespreek. Ons kan voluit en met oorgawe vir God lewe!

Ernest