Paulus se woord “vrygespreek” of “geregverdig”, is ‘n
regsterm wat uit die destydse hofprosedures oorgeneem is.
Oor elke mens moet ‘n hofsaak gehou word voor God.
Elke mens moet skuldig of onskuldig bevind word. Indien jy
onskuldig bevind word, word jy vrygespreek en is jy geregverdig
verklaar. Sonder skuld kan jy gaan as ‘n vry mens.
Ons kan dit soos volg sien:
In die regterstoel sit God die Vader. Ons staan in die beskuldigdebank.
Jesus tree op as advokaat vir die verdediging, dit is vir ons wat in Hom glo,
en sy versoenings daad aan die kruis aanvaar het. Ons wat in Christus Jesus
is – Rom. 8:1. Ons wat glo – Rom. 5:1.
En in die getuiebank staan die Heilige Gees. Daar is nie ‘n aanklaer nie.
Verkeerdelik word die duiwel in hierdie rol gesien, maar in die hofsaak is
daar nie plek vir leuens nie, en nog minder vir die vader van leuens.
Die Regter lees die klagstaat voor, alles wat ons met ons lewe aangevang het.
Ons advokaat, Jesus Christus kom aan die woord en sê aan die Regter dat ons
skuldig is, maar dat Hy klaar ten volle vir al ons skuld betaal het! Dit is volbring!
Hy het klaar in ons plek die straf, die dood, gedra. Hy roep verder getuienis in
dat ons dit ook gló, én aanvaar het! Die getuie wat na vore geroep word is die
Heilige Gees! Die Gees se getuienis is kort en kragtig:
Jy is inderdaad ‘n kind van God deur jou geloof in Jesus Christus as jou
Verlosser en Here. Die getuie, die Heilige Gees onderneem verder om saam
met my te gaan en my te help om as geregverdigde te lewe!
Die Regter, God die Vader, gee die uitspraak: Vrygespreek! Geregverdig in
Jesus Christus! Die skuld is ten volle betaal. Niks kan ooit weer die besluit
verander nie. Jy is vry!
Hierdie hofsaak het gevolge. Jy gaan nie om elke hoek en draai wéér probeer
om jouself deur goeie dade te regverdig nie! Nou kan jy jouself aanvaar as
iemand wat reeds deur God aanvaar is, ten spyte daarvan dat jy wesentlik
onaanvaarbaar was! Maar in Christus is jy nou ‘n nuwe mens!
Efesiërs 5:8: “Vroeër was julle die ene duisternis,
maar nou in die Here is julle lig.
Leef dan as mense van die lig.”
Ernest