Krisisse is deel van ons lewe. Selfs al is ons kinders van God.
Wat is die verskil? Die verskil is God. Binne elke krisis is God
by ons. God sorg in krisis vir jou. 1 Petrus 5:7:
“Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.”
Net so bevestig ook 2 Kor. 1:3: “...Hy is die Vader wat Hom
ontferm en die God wat in elke omstandigheid uitkoms gee.”
Ons kan in elke krisis situasie altyd weet dat God teenwoordig is
en dat die Vader wat sorg en bewaar ons dra. Dit beteken nie net
maanskyn en rose vir ons nie. Net in die volgende vers waarsku
Petrus ons teen die duiwel wat soos ‘n brullende leeu rondloop
om ons te verskeur. Iemand het gesê die Here waarborg nêrens
‘n probleem vrye reis nie, net ‘n veilige aankoms.
Hoe weet ons verder dat God ons regtig op hierdie reis versorg?
2 Kor. 1:9 praat oor uiters moeilike omstandighede en sê:
“Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodsvonnis klaar oor
ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur sodat ons nie op onsself
sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.”
God het reeds met die dood, ons grootste vyand, en al ons ander
vyande klaargespeel! God is die God van die onmoontlike!
Geen situasie is ooit so dood dat God dit nie lewend kan maak nie.
Ons het daarom altyd hoop in enige situasie. In die situasies laat
Hy ons ook leer om meer op Hom te vertrou. Vers 9 sê:
“Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie,
maar op God.” Dit is wat Hy ons leer en ons ook laat groei in krisis
tye. In die grootste krisisse leer ons God ken soos nog nooit tevore
nie. Die Bybel is vol van sulke voorbeelde.
George Muller wat verskeie kinderhuise in Engeland opgerig het,
en altyd in totale afhanklikheid van God geleef het daarvoor,
het ‘n bordjie op sy lessenaar gehad waarop die boodskap gestaan
het: “It matters to Him about you.” Hy het gesê dit som 1 Pet. 5:7
vir hom op. Hy het sy hele lewe daarop gebou. Dit laat ons dink aan
die boer wat onlangs op TV gesê het:
“As God nie môre vir my sorg nie sal dit die eerste keer wees.”
God sorg vir ons!
Ernest