Efesiërs 6:10 sê duidelik vir ons:
“…Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.”
‘n Seun het vir sy pa gevra of hy dink dat hy wat die seun is
‘n baie groot klip sou kon optel. Die pa het gesê dat hy verseker
so dink, veral as die seun ál sy krag sou gebruik. Die seun het
probeer en probeer maar kon nie die klip optel nie. Uit frustrasie
het hy uitgeroep: “Pa was verkeerd, ek het ál my krag gebruik en
kon nie die klip optel nie!” Die pa het geglimlag en geantwoord:
“Nee, jy het nog nie ál jou krag gebruik nie. Jy het nog nie vir mý
gevra om jou te help nie. Ek is deel van die krag wat tot jou
beskikking is!” So is dit ook in ons verhouding met die Here.
Sy krag is tot ons beskikking, maar ons maak op ons eie krag staat.

Een van ons geskenke is die krag wat God ons gee! Ons moet egter
besef ons kan net sê “ons is sterk”, omdat God sterk is!
God is almagtig!...sterk! Ons moet nie ons eie krag oorskat nie, maar
uit die krag van God leef! Ons moet ook nie vir God probeer voorsê
wat om te doen nie, asof dit óns krag is nie. God die Heilige Gees se
krag werk in ons. Paulus het dit juis beklemtoon met die woorde wat
die Here vir hom gesê het in 2 Kor. 12:9: “My genade is vir jou genoeg.
My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”
Daarom sê Paulus dan in vers 10: “...want as ek swak is, is ek sterk.”
Ons krag lê in die Here.

Omdat God sterk is, daarom doen Hy! God tree op. God help. God red.
God oorwin. Meister Eckhart het oor God se krag gesê: “God doen dit!
Ons moet dit beleef.” Ons beleef dit deur uit dit te leef. Dit is baie belangrik:
Leef uit God se krag! God doen sy kragtige werke in en deur ons lewe.
Iemand het by geleentheid gesê: “Een van die definisies van ‘n Christen is
dat hy die onmoontlike liefhet, want die onmoontlike is God se werk.”

God se krag lê ook ver bo wat ons dink of bid! Efesiërs 4:20:
“Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer
te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe...”
Dink weer aan die pa en seun met die swaar klip. Gebruik al die krag tot
jou beskikking. God wil deur jou werk waar Hy jou ook al stuur!
Onthou ook een van God se name in die Bybel: “El Shaddai”, wat beteken:
“God kan doen wat Hy belowe.” God kan, want sy almag ken geen perke.
Leef uit God se krag!

Ernest