Psalm 91:11-12: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm
waar jy ookal gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie
jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.”
In die vorige eeu was daar ‘n klein kusdorpie wat baie blootgestel
was aan stormweer van die see af. Dit was egter ‘n gewilde kusstrook
vir visvang van bote af. Visserskuite het gereeld op die rotse geloop in
die donker. Die kerkgebou het egter as ‘n sigbare baken uitgestaan.
As jy dit kon sien, en in lyn daarmee vaar na die hawe toe, was jy veilig.
Een Sondag aand was daar ‘n hewige storm. Die leraar se vrou het
daarop aangedring dat die leraar kerk toe moes gaan vir indien daar
selfs net een persoon sou opdaag. Die kerkgebou was nie sigbaar van
die see af in die hewige storm se donker nie. By die kerk aangekom het
die leraar begin om lampe op te steek en ligte aan te sit oral waar hy kon.
Die kerkgebou het egter, behalwe vir hom, verlate gebly. Hy het besluit
om by die Here stil te raak en dan weer te sluit en huistoe te gaan.
Hy was vir ‘n geruime tyd in aanbidding by die Here. Daarna het hy alles
toegemaak en huistoe gegaan. Die volgende oggend het vissermanne by
sy huis opgedaag en kom dankie sê dat die leraar wél kerk toe is die vorige
aand, teen almal se verwagting in, en dat hy lig gemaak het in die kerk.
Dit het aan hulle ‘n sigbare baken gegee wat hulle kon raaksien. Onder die
beskerming van die sigbare lig, kon hulle die regte lyne deur die rotse kies
en veilig in die hawe aankom.
God sorg deur die gewone, en op buitengewone maniere. Op gewone en
buitengewone maniere hou Hy ons veilig. Eintlik is al God se sorg buiten-
gewoon! Daar is genoeg rede in hierdie wêreld om onveilig te voel. Veral
as ons net daarop fokus, en vergeet dat ons in God se sorg is. Ons moet
doelbewus onthou en daaruit leef dat God self ons veilig hou. Dit is wat
bogenoemde verse in Psalm 91 vir jou sê: God het sy engele opdrag gegee
om jou veilig te hou. Boonop bly die Heilige Gees in jou! Behalwe dat Hy
ons Leermeester en Trooster is, is Hy ook ons beskermer. Hy wil ons laat
besef dat ons veilig is by God. Ons onveilige gevoel wat ons dikwels so
vasdruk en die lewe uit ons druk, het baie te doen met ons gebrek aan
vertroue in God. Ons leen te maklik ons ore uit aan die wêreld rondom
ons, en vergeet te maklik dat ons in God se hand is.
Oswald Chambers sê ons moet nie aan geloof dink as ‘n proses om ons
net in die hemel uit te bring nie. In werklikheid is God se wil vir ons die
weg wat ons nóú reeds saam met God loop. Al leef ons in ‘n wêreld met
baie stres, raak ons nie verbouereerd en opgejaag nie omdat ons bewus
is van God die Vader vír ons, Jesus Christus die Here mét ons, en die
Heilige Gees ín ons! Dít is God se wil vir ons! Om met hiérdie realiteit
die lewe self in oorvloed te leef! God se wil vir ons is dat ons vandág
volkome afhanklik van Hom sal leef vir ons veiligheid en sorg.
Matteus 5:3: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Ons vertrou
alleen op Hom en sy krag vir ons. Ons sien Hom nóú loop op die golwe
van ons lewe – al is die kus nêrens in sig nie, soos met die vissermanne
wat lig gesien het! Psalm 91 wil in bogenoemde verse sê:
Al is geen uitkoms in sig nie, Hy beskerm ons, al loop niks op die oog af
reg nie, kan ons die sekerheid hê dat Hy steeds vir ons sorg en ons
bewaar en veilig hou in sy hand. Niks kan ons ware ewige lewe uit God
se hand ruk nie.
Vertrou God se krag, God se trou, God se Woord en God se beloftes,
méér as wat jy jou eie emosies en ervaring vertrou.
God hou jou veilig by Hom!
Ernest