Dink weer aan Psalm 91:11-12: “Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ookal gaan. Op hulle hande sal hulle
jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.”
Hoe kan ons prakties, veral in hierdie totaal ongekende tye,
doelbewus veilig by God lewe? Ons kyk vandag na vier punte,
en môre na nog ses punte.
Hoe kan ons dus prakties met vertroue en doelbewus veilig
by God lewe?

Die eerste is: Om betroubare bronne te gebruik. Daar is soveel
fopnuus/“fake news” in omloop. Wat moet jy glo? Ons bely dat
die Bybel die enigste totaal betroubare bron is vir ons lewe saam
met God. Die hele oproep van die Bybel is om God met jou hele
lewe te vertrou en jou lewe aan Hom oor te gee! Jesaja 12:2:
“God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder.”

Die tweede is: Dat ons doelbewus ons illusie dat ons “in beheer” is,
moet opgee. Net God is totaal in beheer! Vertrou Hom deur die
Gees wat in jou werk. God is my redder, sê bogenoemde vers.
Onthou: Jy is nie in beheer nie, jy was nog nooit in beheer nie,
jy sal nooit in beheer wees nie, en jy moet nooit in beheer wees nie.
Dit is God se werk. Ons is nie God nie! Ons is nie in beheer van alles
nie. God laat die son opkom, en sak. God laat jou hart klop en jou
bloed sirkuleer. Jy is in beheer van niks nie – God is! Vertrou Hom!
Hy weet wat Hy doen. Jy is nie sy raadgewer nie.

Die derde is: Om vertroue in die middelpunt van jou geloof te plaas.
Die wêreld ly aan ‘n gebrek aan vertroue. Christene moet aan die
wêreld bly getuig dat God alleen vertrou kan word om ons veilig te
hou en vir ons te sorg. Hoe doen ons dit? Deur so te leef dat die
wêreld kan sien dat ons in alles wat ons doen en sê God alléén
vertrou, en dat ons daarom ook mekaar as kinders van God wíl
vertrou. Gelowiges is soos die bemanningslede van ‘n skip wat in
‘n hewige storm was. Almal was paniekbevange onder in die enjin-
kamer. Een bemanningslid het gesê hy gaan boontoe om by die
kaptein te hoor presies wat die situasie is. Hy het rustig en sonder
vrees teruggekom en vir almal gesê: “Julle kan ontspan. Die kaptein
is aan die stuur van die skip en hy het vir my geglimlag.”
Gelowiges kan vertrou, want God is aan die stuur, en Hy glimlag
vir sy kinders. Alles is onder beheer, al lyk alles verkeerd.

Die vierde is: Jy moet vertrou én gehoorsaam wees. Die ander kant
van vertroue is gehoorsaamheid. Jy bewys jou vertroue ín God,
deur gehoorsaam te wees áán God. Met die verfilming van “Ben Hur”
het Charlton Heston gekla dat hy nie eers op die strydwa kan bly nie,
wat nog die strydwa resies wén!” Die regisseur, William Wyler het
geantwoord: “Jou werk is om met vertroue op die strydwa te bly.
My werk is om jou te laat wen.”
Gehoorsaamheid is om met vertroue te doen wat God van jou vra,
en Hy sal die res doen! Die oorwinning is reeds in Christus behaal!

Ernest