1 Petrus 2:24: “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die
kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons
lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde
is julle genees.”
Let op: Die laaste deel van bogenoemde vers sê:
“Deur sy wonde is julle genees.” Jy is gered deur die wonde
van Christus. Wat beteken dit? Christus se lyding, kruis en dood
word ons redding. Dit is die oomblik waarin dood vir ons in lewe
verander. Iemand het gepraat van ons kruispunt. Die kruispunt
van ons lewe.
Hierdie verhaal uit die Tweede Wêreldoorlog illustreer dit,
hierdie kruispunt van die lewe:
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het miljoene Jode in Duitse
konsentrasiekampe gesterf. ‘n Joodse gesin, die Stein-gesin, het by
‘n Franse gesin in Frankryk geskuil vir meer as drie jaar. Uiteindelik is
hulle deur die Duitsers uitgesnuffel. Hulle is op ‘n trein gesit na die
gevreesde konsentrasiekampe in Duitsland. Dit was ‘n trein vol Jode.
Op pad na hul dood...
Skielik het die trein in die donker nag tot stilstand geruk. Die deure is
oopgepluk en hulle is uit die trein gehelp. Verdwaas het hulle uitgeklim
en gesien die Duitse soldate in beheer van die trein is deur Switerse
soldate oorrompel en gevange gehou. Die Jode was gered en het in
Switserland gebly tot na die oorlog.
Na die oorlog het die Stein-gesin navorsing gedoen oor wat presies
daardie nag gebeur het. Hulle het ontdek dat die Franse weerstand-
beweging die trein by die Switserse grens gekaap het deur die trein
van koers af te dwing in Switserland in. Hulle het glad nie geweet hóé
hulle dit gaan regkry nie, aangesien die Duitsers die sinjaal-pos bewaak
het. ‘n Franse soldaat van die weerstandsbeweging het gesê dat hy ‘n
uitstekende plan het en hulle moet hom vertrou. Hy het vinnig in die
nag verdwyn en na die spoor gesluip terwyl hulle al die trein kon hoor
aankom! Tot hul verbasing het die trein wel van rigting verander, net
soos hulle dit wou hê! By nadere ondersoek het hulle die grusame fonds
gesien...gesien dat die soldaat op die spoor gaan lê het, tussen die
spoorstawe, en die kruispunt-spoor by die wisselaar met sy arms, bene
en geweer in die ander posisie in forseer het, en só gehóú het, totdat die
trein oor hom en die wisselaar gery het! So het die trein van rigting
verander en het dit op ‘n syspoor tot stilstand gekom!
Die Switsers en Franse het die Jode gered, en die trein na die dood het
op ‘n ander spoor tot lewe gelei. Daardie Franse soldaat het in die proses
sy eie lewe gegee, sodat honderde Jode kon bly leef!
Die Stein-gesin het hierdie verhaal publiseer en vandag getuig dit steeds
van ‘n daad van totale opoffering!
By daardie kruispunt-spoor is honderde lewens gered van sekere dood!
Ons kruispunt...is die kruis van Jesus! Christus se lyding, kruis en dood,
word ons kruispunt op ons lewens-spoor. Daar verander ons koers op pad
na die dood...na die lewe! En soos die Stein-gesin leef ons om dit te vertel!
Getuig daarvan! Leef dit uit! Deur Jesus se wonde is ons gered en genees!
Ernest