Leef doelbewus veilig by God!
Hoé kan ons doelbewus veilig by God lewe?
Ons het gister 4 punte genoem en voeg vandag nog ses by.
Ons kyk by herhaling na die eerste vier:
Eerstens: Leef slegs uit betroubare bronne. Die Bybel, so bely ons,
is die enigste betroubare bron vir ons hele lewe saam met God.
Tweedens: Vergeet die gedagte dat jy in beheer wil wees. Jy is nie,
net God is.
Derdens: Plaas vertroue in God alléén in die sentrum van jou geloof.
Vierdens: Jy moet vertrou én gehoorsaam wees. Gehoorsaamheid
áán God, is die ander kant van vertroue ín God.

In die vyfde plek: Jy moet vertrou dat God almagtig is. Dit klink voor
die hand liggend dat ons dit doen. Maar ons doen dit nie. Ons bely
dit maar leef dit nie uit nie. Maak nie saak wát in ons lewe gebeur nie,
ons moet bly glo God is God! Vir Hom is niks onmoontlik nie! Daarom
moet ons nie te gou dink ons weet wat in hierdie wêreld kán, en wat
nié kan nie. Ons moenie te gou dink ons weet wat is moontlik in
Suid Afrika en wat nie. Moenie klein dink oor God en sy wil nie!
Hoe groot is joú God?

In die sesde plek: Jy moet vertrou dat God vir ons omgee!...én weet
wat in ons lewe aangaan! Die kinders sing ‘n lied: “Hy hou die hele
wêreld in sy hand, Hy hou vir my en jou in sy hand...” John Stott het
gesê die feit dat God alles van ons weet, beteken nie dat Hy altyd
ons moeilike situasie verander nie, maar dat Hy altyd ons swaarkry
raaksien, en afbuig, en ons ín ons situasie vashou. God is nie begaan
oor ons gerief nie, maar oor die bou van ons karakter om meer en
meer soos Jesus te leef.

In die sewende plek: Jy moet elke dag voor God bely:
“Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken
as U nie.” – Psalm 73:25. Hierdie woorde spreek vanself! Lééf dit!

In die agtste plek: Jy moet iemand wees op wie ander kan vertrou.
Ons ja moet ja wees, en ons nee moet nee wees. Wanneer jy ‘n
belofte maak moet jy dit hou. Dit laat ons besef dat God deur ons
werk en dat ons veilig is in sy werk en wil.

In die negende plek: Erken eerlik jou tekortkominge en beperkinge.
Dit beklemtoon ons afhanklikheid van God om veilig naby Hom te leef.
Ons leef nie “onafhanklik” weg van Hom op ons eie nie. ons kan nie.
Daar is dit die onveiligste!

In die tiende plek: Jy moet altyd die waarheid vertel. Die waarheid
maak ons vry en laat ons met vertroue naby aan God leef.
Die waarheid skep veiligheid.

Vertroue op God skep die moontlikheid om regtig altyd te kan sê:
“Ek is veilig by God.”
God se beskerming is soos die sterre. Hoe donkerder die nag,
hoe helderder vonkel hulle. Vertroue in God se beskerming om jou
veilig te hou, is om loshande aan God vas te hou!

Ernest