1 Petrus 2:24 beklemtoon dat redding gehoorsaamheid vra:
“Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in
gehoorsaamheid aan die wil van God...” Petrus roep ons op om,
as gevolg van ons redding, gehoorsaam aan God se wil te leef!
Gehoorsaamheid aan die wil van God is om anders te leef.
Die laaste deel van die bogenoemde vers sê:
“...Deur sy wonde is julle genees.” Genesing laat ons anders leef.
Geestelik gesond leef. Waarlik leef.

Die beroemde pianis, Arthur Rubenstein, het destyds die Israeliese
eerste minister, Golda Meir, en die gehoor totaal onkant betrap toe
hy, ‘n Jood, sy geloof in Jesus openlik op Israeliese televisie bely het.
Dit het gebeur toe Meir met Rubenstein ‘n onderhoud gevoer het.
Sy het hom uitgevra na die hoogtepunt van sy merkwaardige lewe.
Sy antwoord was: “When I received Yeshua Harnashiach
(Jesus the Messiah) into my heart. Since then my life was changed.
I have experienced joy and peace ever since.”
Meir het op daardie oomblik in haar stoel agteroor gesak uit algehele
verbasing en jy kon haar met ‘n veertjie omtik.

Ware redding is nie wat jy soseer doen nie, maar iets wat met jou
gebeur deur die werk van God. Wonderwerk. Jesus Christus red jou!
Dit is nie die daad van jou geloof wat jou red nie, maar die inhoud van
jou geloof, naamlik Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here!
Romeine 10:9 bevestig dit: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here
is (die Gekruisigde), en met jou hart glo dat God Hom uit die dood
opgewek het, sal jy gered word.” God doen dit alles!

Ware redding sê jou verlede is verby, jou toekoms het saam met God
begin, en jou hede is ‘n opwindende lewe saam met God. Ware redding
sê ook vir jou dat nie net jou toekoms nuut is nie, maar dat jy ook ‘n
nuwe vergeefde verlede het! Jou verlede en toekoms is nuut!
Dan kan jy beleef wat Arthur Rubenstein beleef, in navolging van Christus,
en gehoorsaamheid aan die wil van God: “I’m passionately involved in life:
I love its changes, its colours, its movement. To be alive, to be able to see,
hear, to walk, to have...music...It’s all a miracle. I have adopted the
technique of living life from miracle to miracle.”
Dit is die nuwe lewe saam met Jesus,
in gehoorsaamheid aan die wil van God!

Ernest