Jy is in Christus geseën met al die geestelike seëninge
wat daar in die hemel is! Kan jy dit glo? Ja! Verseker!
Jy kan. Jy moet! Kyk net wat sê Efesiërs 1:3:
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al
die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge
van die Gees wat daar in die hemel is.” Merkwaardig! Groot!
Die legende word vertel van ‘n skatryk handelaar wat Paulus
in die tronk besoek het, met die hulp van Timoteus. Hy wou
weet wie hierdie man Paulus is van wie hy so baie dinge hoor?
In die tronksel het hy na die ou man Paulus geluister. Hierdie ou
man het ongekende vreugde en blydskap gehad ten spyte van
sy omstandighede (Fil. 4:4). Buitekant die tronk het die handelaar
aan Timoteus gevra wát die geheim van Paulus se geseëndheid was?
Al het hy niks, en sit in die tronk,...het hy op die oog af alles!
Timoteus se antwoord was: “Paulus is baie lief vir die Here!”
Die handelaar het gevra: “Is dit ál?” Timoteus het geantwoord:
“Maar dit is inderdaad álles! In Jesus het jy alles!
In Hom is jy ten volle geseën!”
Bogenoemde is ‘n legende. Wanneer Paulus sélf oor ons seëninge praat,
in die Woord van God, dan sê hy dat ons inderdaad geseën is “met ál die
seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” Ons het dit as ‘n groot
geskenk van God ontvang, in Christus Jesus! Wanneer ons hierdie groot
geskenk seëning vir seëning uitpak, vanaf Ef. 1:3 tot vers 14, dan sien ons
hierdie wonderlike hemelse seëninge:
Vers 4: Jy is deur God gekies! Jy is God se geliefde! Ons kan dit nie verklaar
nie. ons kan net op ons knieë dankie sê vir God!
Vers 5: Jy is as gevolg van Jesus deur God as kind aangeneem. Nie net
gekies nie, maar kind van God! Hy is jou hemelse Abba Vader – hemelse Pa.
Persoonlik. Familie.
Vers 7: Jy is gered en vergewe! God begin skoon met jou. Elke dag!
Vers 9: Jy het insig in God se plan! Hy het die geheimenis van sy wil aan jou
bekend gemaak.
Verse 11-12: Jy is God se eiendom! Jy is ‘n burger van die hemel.
Vers 14: Jy is ‘n erfgenaam van God! Jy is volkome verlos! En die Heilige Gees
is die waarborg dat jy sal ontvang wat God aan jou belowe het!
Al hierdie bogenoemde seëninge beteken dat jy geseën is met verandering!
Jy is besig om elke dag deur die Gees verander te word sodat jy al hoe meer
aan die beeld van Christus gelyk word – 2 Kor. 3:18. Verandering is een van
die grootste seëninge wat ‘n gelowige ontvang! Want in dieselfde vers staan
daar: “...Die heerlikheid wat van ons uitstraal neem steeds toe. Dit doen die
Here wat die Gees is.” Ons verander voortdurend,
om meer en meer soos Jesus te leef!
Jy is geseën met ware lewe! Ewige lewe! Jy is ten volle geseënd!
Met ál die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is!
Ernest