Die kosbaarste skat van alle skatte is die koninkryk van die hemel!
Maar hoe ontdek ons hierdie kosbaarste skat in ons dolle gejaag
van die lewe? Hoe ontdek ons die teenwoordigheid van God oral
in ons lewe, en nie net in die sogenaamde heilige plekke of tye nie?
Broer Lawrence het in die Middeleeue as priester in die kombuis
gewerk en gesê: “Jesus was tussen die skottelgoed in die kombuis
net so naby aan my as in die nagmaal.”
Hy het vyf dinge voorgestel wat ons vandag nog kan help om die skat
van God se koninkryk oral te ontdek.
Eerstens: Die behoefte om by God te wees. Die erkenning dat God
oral teenwoordig is en dat ons bý Hom wil wees en Hom in die
alledaagse lewe wíl ontmoet!
Tweedens: Om op God te fokus. Soek Hom bewustelik in die alledaagse.
Kyk om Hom raak te sien, raak te hoor, raak te leef...in die lag van ‘n kind,
die geur van ‘n blom, die smaak van ‘n vrug, die geraas van die kombuis,
en in die vergadering by die werk.
Derdens: Aanbid God en wees bo alles lief vir God. Psalm 51:12:
“Skep vir my ‘n rein hart.” God se teenwoordigheid syfer dan deur na al jou
ander verhoudings en sake. Wie God bo alles liefhet sal God in alles sien.
Vierdens: Loof God bewustelik vir wie Hy is in jou lewe. Dan volg jy die
voorbeeld wat Jesus gegee het toe Hy die lofsang gesing het voor Hy
Getsemane en Golgota tegemoetgegaan het – Matteus 26:30.
Om so te doen is om soos Christus te begin dink en doen. Dit is wat
letterlik in Filippense 2:5 staan. Ons vra dan vrae soos:
Wat is regtig belangrik vir Jesus? Watter beginsels lê Hom na aan die hart?
Watter doelwitte wil Hy hê moet ons bereik? Hoe het Jesus sy keuses gemaak?
Dit is inderdaad ‘n lewenslange “struggle to have the mind of Christ,
day by day”, teenoor “a mind of our own.”
Vyfdens: Wees van alle dinge die liefste vir God, en nooit die liefste vir die
dinge van God nie. Ons moet nie te geheg raak aan die dinge van die lewe nie,
al is dit seëninge van God, want dit is van verbygaande aard en bring nie ewige
geluk nie. Die regisseur, De Sica, het aan Sophia Loren oor haar gesteelde
juwele gesê: “Ek het geleer om nooit oor goed te huil wat nie oor my kan
huil nie.”
Wees die liefste vir God, en nie die dinge van God nie.
Wees bo alles en almal die liefste vir God!
Hierdie vyf dinge help ons om die skat van God se koninkryk oral te ontdek!
Ernest