Die gelykenis van die kosbare skat van die koninkryk van die hemel in
Matteus 13:44-46, leer ons dus in die eerste plek dat die koninkryk van
die hemel in die alledaagse lewe te vind is.
God is juis dáár! Soek Hom en sy koninkryk óral waar jy leef!

Die tweede wat die gelykenis ons leer is dat enige opoffering om die
skat van die koninkryk van God te bekom die moeite werd is!
Die koninkryk van God vra altyd iets van jou. Ja!...dit vra jou hele lewe
van jou! Bodhoeffer se beroemde stelling hieroor is:
“When Christ calls a man, He bids Him come and die!”
Die eerste ding wat moet doodgaan is jou ou mens met jou verkeerde
waardes en prioriteite.

Die gelykenis van Matteus 13:45 sê dat daar niks kosbaarder is as die
koninkryk van God nie. Want pêrels is in die destydse wêreld beskou as
die kosbaarste wat jy kon besit. Om die koninkryk van God te ontvang is
om ‘n genade-miljoenêr te wees. Johannes 1:16 sê ons het genade op
genade ontvang!
Tel jou seëninge wat jy elke dag ontvang. Dit sal jou hart bly maak omdat jy
daardeur sal besef hoe skatryk jy werklik is. ‘n Ware genade-miljoenêr.

Ons skatte is inderdaad in die hemel, en nie op die aarde nie.
In Matteus 6:19-21 sê die Here: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak
waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle
skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe
nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Om die waarde van een jaar te besef, vra ‘n student wat sy jaar gedruip het.
Om die waarde van een maand te besef, vra die moeder wat ‘n prematuur baba.
Om die waarde van een week te besef, vra die redakteur van ‘n weeklikse uitgawe.
Om die waarde van een dag te besef, vra ‘n dagloner wat vanaand aan ‘n gesin
van ses kos moet gee.
Om die waarde van die ewigheid te besef, soek allereers die koninkryk van God.
Daarin is jy reeds skatryk, want jy ontvang genade op genade! – Johannes 1:16.
Daarin ontvang jy ook die lewe!...sê Johannes 10:10, die léwe in oorvloed!
Jy is onberekenbaar skatryk in die koninkryk van God!

Ernest