In hoe ‘n mate lyk ons soos Jesus in ons alledaagse lewe?
Dit is wat hierdie onderstaande Skrifgedeeltes van ons sê en vra:
Kolossense 3:4: “Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms
verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.”
Let op die woorde: “…Christus, wat julle lewe is…”
2 Korintiërs 3:18: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here…
Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.
Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here
wat die Gees is.” Let op die woorde: “…Ons word al meer verander om
aan die beeld van Christus gelyk te word…”
1 Johannes 2:6: “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe
soos Jesus gelewe het.” Let op: óns… “behoort self ook te lewe soos Jesus
gelewe het.”
Ons is ‘n voorbeeld vir ander, want Christus is ons lewe!
Jy is ‘n voorbeeld vir ander, want Christus is jou lewe!
Dit is wat bogenoemde Skrifgedeeltes vir ons sê. Ons is die voorbeelde
van Jesus hier op aarde. Deur ons optrede behoort ons vir mense te wys
hoé Jesus is.
Terwyl ‘n wit gevangene in die tronk was het hy tot bekering gekom.
Hy het deurgaans van Jesus getuig en alles wat hy het met die ander
gevangenis gedeel. Hy het Jesus aan almal rondom hom begin uitleef.
‘n Groot swart man wat langs hom in die sel was, het sinies gebly oor
hierdie verandering in die witman se lewe. Die witman het egter volhard
en konsekwent Jesus uitgeleef, ten spyte van wat ook al. Gaandeweg het
dit die swartman begin beïnvloed en hy het die witman al hoe minder en
minder gespot. Die witman is onverwags aan ‘n hartaanval oorlede.
Op die begrafnis het die kapelaan van die tronk gepraat van Jesus en sy
oorwinning oor die dood. Die swartman het opgestaan en die kapelaan
onderbreek. Hy het na die kis gewys en gesê:
“Dit was die enigste Jesus wat ek ooit geken het.”
Wie is ons nou eintlik? Ons leef soos Jesus, nié sódat ons kinders van God
kan word nie, maar ómdat ons kinders van God ís. Ons is ‘n voorbeeld vir
ander van hoé Jesus is, nié sódat Christus ons lewe kan word nie, maar
ómdat Christus ons lewe ís! Christus ís ons lewe!...sê bogenoemde Kol. 3:4.
Ons word al hoe meer verander om soos die beeld van Jesus te lyk,
nié sodát ons hemel toe kan gaan nie, maar ómdat ons reeds die heerlikheid
van God uitstraal, sê bogenoemde Kolossense 3:4 en 2 Korintiërs 3:18.
Watter voorbeeld stel jy? Baie eenvoudig. Jy leef soos Jesus geleef het.
Dít...is jou roeping hier op aarde!
Ernest