Matteus 5:13: “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het,
hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word
buitekant gegooi en die mense vertrap dit.”

Ons is die sout vir die aarde. Dit beteken duidelik ons is hier om ‘n verskil
te maak. The Message vertaal dit so: “You’re here to be salt-seasoning
that brings out the God-flavours of this earth. If you lose your saltiness,
how will people taste godliness?”

Jesus gebruik doelbewus die beeld van sout omdat dit soveel gesê het vir
die tyd waarin Hy hier op aarde was. Sout het in daardie tyd buitengewone
belangrike betekenis gehad in die samelewing. Ons dink net aan sout as ‘n
geurmiddel. Vandag het sout ook nog ‘n slegte naam gekry in terme van
gesondheid. Dit veroorsaak blykbaar hoë bloeddruk en baie mense noem
dit ‘n “slow-killer”.

In Jesus se tyd was dit egter anders.
Sout was in die eerste plek ‘n preserveermiddel. Dit moes bederf in voedsel
teëwerk. Die Grieke het die uitdrukking gehad dat sout ‘n nuwe siel in ‘n
dooie liggaam sit. Christene word aan die hand van die sout-beeld opgeroep
om bederf teë te werk in hierdie wêreld. Ons moet die varsheid van die
Evangelie bring in die kringe waarin ons beweeg. Ons staan op teen onreg.
Ons steek altyd ‘n helpende hand uit. Ons werk teen die uitbuiting van mense.
Ons deins ook nie terug vir teenstand nie. Ons deur-sout die samelewing om
bederf teë te werk.

Sout is ook ‘n geurmiddel. Sout gee smaak aan voedsel. Ons gee smaak aan
die lewe. Deur ons...gee God lewe! Soos The Message sê: Ons bring die
God-flavours, die Goddelike smaak na die wêreld. Ons leef so dat ons smaak
gee aan die wêreld. Christene bring vrede, vreugde, liefde, genade en diepte
in die lewe.

Sout is ook ‘n kunsmis-middel gewees. Dit is dikwels op die lande gestrooi
om groeipotensiaal in die grond te verhoog. Ons moet help met die groei
proses in die lewe van mense.
Sout is ook ‘n simbool van reinheid. Die Romeine het gesê dat sout die
suiwerste van alle dinge was omdat dit afkomstig is van die see en die son.
Daarom is dit ook gesien as ‘n simbool van reinheid. Christene moet ‘n
reinigende rol in die wêreld speel.

Sout wat in die houer bly maak nie ‘n verskil nie. Sout moet uit die soutpot
gestrooi word om die verskil te maak.
Kom ons gaan uit en ons sout die wêreld vir die Here!

Ernest