Matteus 5:14-15 sê: “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op
‘n berg lê kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n
lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander,
en dit gee lig vir almal in die huis.”
God vra van ons om ons lewe só te leef in diens van die Here dat
mense die omgee van God self ervaar. So skyn die lig van God se
liefde deur ons. The Message vertaal bogenoemde vers so:
“You’re here to be light, bringing out the God-colors in the world.
God is not a secret to be kept. We’re going public with this...”
Mense moet die verskillende kleure van God se genade as’t ware
raaksien. Dit moet in ons alledaagse lewe gebeur. Om die lig vir
die wêreld te wees is om God se liefde vir die wêreld te wys. So
verlig ons die donker dele van die lewe. So laat ons ook die dele
wat reeds verlig is nog helderder skyn.
John Ruskin het in die dae geleef toe die Engelse dorpe nog verlig
is deur die lampe langs die straat wat aan die brand gesteek is.
Een aand het hy saam met ‘n vriend gekyk hoe ‘n lamp-aansteker
die lampe aansteek. Later kon hulle hom nog net daar doer in die
verte van die nag sien beweeg. Ruskin het vir sy vriend gesê:
“There is what I mean by being a real Christian. You can trace his
course by the lights that he leaves burning.”
Ons is soos ‘n gloeilamp. Ons taak is om te skyn. Niemand praat
oor die gloeilamp nie. Maar almal praat oor die lig! Die lig wat jy
bring help mense om God te sien, nie vir jou nie.
Die tragiese moontlikheid lê egter in die tweede deel van die verse.
Ons kan die lig wegsteek. Jou lig kan afgeskakel wees. Is ons skaam,
of bang vir teenstand? Ons moet weet die Satan wil ons lig uitdoof.
Soos iemand gesê het: “If you don’t run into Satan at times,
you must be going the same way.”
Onthou: Ons is nie ‘n lig wat uit eie krag skyn nie. Ons reflekteer die
lig van Christus in ons! Daarom het Robert Alden so treffend hieroor
gesê: “Daar is nie genoeg donkerte in die ganse wêreld wat die lig
van een klein kersie kan uitdoof nie. Geen duisternis kan opsigself
die lig uitdoof nie.”
Die Grieke het ‘n unieke wedloop tydens hulle Olimpiese Spele gehad.
Die wenner was nie die een wat eerste gekom het nie. Nee. Dit was
die atleet wat dit kon regkry om die eindstreep te haal terwyl sy fakkel
steeds brand.
Dit is die wedloop waarin ons is. Om volhardend te hardloop met
‘n lig wat steeds skyn en ons Here Jesus reflekteer!
Ernest