2 Korintiërs 5:20: “Ons tree dus op as gesante vir Christus...”
Gesante vir Christus is ambassadeurs vir Christus.
Verteenwoordigers van God – reeds in Genesis 1:27!
Dit is ‘n koninkryks-aanstelling!
Wat is ‘n ambassadeur se taak?
Dit sal ons help om te weet wat ons taak in diens van God behels.
Eerstens: ‘n Ambassadeur verteenwoordig sy land in die vreemde,
by mense wat ‘n vreemde taal praat en vreemde gewoontes het,
anders dink en anders leef as ons. Stel jou byvoorbeeld voor om
‘n ambassadeur vir ons land in Japan te wees. Vreemd!
So is dit ook om ambassadeur vir Christus te wees. Jy leef tussen
mense wat nie jou taal van jou Christelike oortuigings praat nie.
Hulle praat byvoorbeeld nie jou taal van 1 Korintiërs 13 se liefde nie.
Hulle verstaan nie jou manier van dink en doen nie. Jy het ander
waardes, en ‘n hemelse paspoort. Jy is ‘n Christen. Jy dra Christus
se Naam. Jy verteenwoordig Hom.
Tweedens: ‘n Ambassadeur praat namens sy eie land.
Hy verteenwoordig die belange van sy eie land. Hy is in ‘n vreemde
land die stem van sy eie land. ‘n Ambassadeur praat nie namens
homself nie. Hy praat wat sy land vir hom sê om te praat.
As ambassadeur van Christus moet ons praat en doen wat Christus
ons opdrag gee om te doen. Ons is ambassadeurs vir die koninkryk
van God. Ons kan net sê en doen wat Christus wil hê, as ons in noue
kontak met Hom lewe. Slegs dan kan ons Hom verteenwoordig soos
Hy dit wil hê. Leef naby Hom!
Derdens: Die eer van die land is in die hande van die ambassadeur
in ‘n ander land. Wat die ambassadeur sê of doen, sê of doen die
land wat hy verteenwoordig. ‘n Groot verantwoordelikheid rus op
die skouers van die ambassadeur om sy land se naam in ere te hou.
So is die eer van Christus, en die kerk, en die koninkryk van God ook
in ons hande in hierdie wêreld. Ons kan nie sê die kerk maak sus of
so nie. Christene is die kerk. Christene verteenwoordig die koninkryk
van God. Die wêreld hou Christene dop met valk-oë.
Franciscus van Assisi het eenmaal een van sy leerlinge genooi om
saam met hom in die dorpie te gaan preek. Hulle het die hele oggend
rondgestap en met mense gepraat. Franciscus het mense bemoedig en
raad gegee en saam gebid. Die slagter, onderwysers by die skool, die
vrou wie se man oorlede is, die skoenmaker...
Teen die middag het Franciscus gesê hulle kan nou weer huiswaarts keer.
Die student het protesteer en gesê dat hulle gekom het om te préék...
en nou het hulle dit nie gedoen nie! Franciscus het geantwoord:
“Regtig nie...? Jy moet weet, mense het die hele oggend na ons gekyk,
en geluister, en ons omgee en liefde waargeneem. Hulle is bemoedig en
versterk. Elke woord wat ons gepraat het, elke daad wat ons gedoen het,
elke gebed wat ons vir hulle gebid het...was ‘n preek! Ons het die hele
tyd gepreek!”
Om sy studente verder te help het Franciscus vir hulle gesê:
“Preek sonder ophou. En as jy dan regtig moet, gebruik dan eers woorde.”
Christene word dikwels die vyfde evangelie genoem. Die evangelie van ons
as ambassadeurs se doen en late. Dit is die enigste Bybel wat baie mense
sal lees omdat hulle geen Bybels het of lees nie. Hulle lees Christene se lewe.
Leef daarom as ambassadeur van Christus. Gesant van Christus.
Verteenwoordiger van die koninkryk van God.
Ernest