Een van die grootste gawes wat ons van die Here ontvang het
is die vermoë om te verander! Ons kan verandering hanteer en
die Here verander ons voortdurend deur die Heilige Gees om al
hoe meer die beeld van Jesus te vertoon. 2 Korintiërs 3:18 sê:
“...Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus
gelyk te word...Dit doen die Here wat die Gees is...”
Nou vind ons hierdie merkwaardige opdrag van die Here in hierdie
verband, in Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld
gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te
vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat
vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Wanneer ons kinders van God is, volgelinge van Jesus, dan weet ons
wie ons is en wat ons wil doen. Dan laat ons nie toe dat die wêreld vir
ons voorskryf om te doen wat teen ons status, aard en karakter as
kinders van God is nie! In hierdie verband vertaal The Message dit
treffend so: “Embracing what God does for you is the best thing you
can do for Him. Don’t became so well adjusted to your culture that
you fit into it without even thinking. Instead, fix your attention on God
...Unlike the culture around you, always dragging you down to its level
of immaturaty, God brings the best out of you...”
Dit is die punt wat Paulus wil maak: Jy is ‘n veranderde mens omdat jou
denke deur God vernuwe word! Dit is ‘n baie belangrike stelling oor jou
“doen-lewe”. Die Griekse woord vir “...moenie aan hierdie sondige
wêreld gelyk word nie...” kan ook vertaal word met “moenie konformeer
met die wêreld nie” of “moenie jou aanpas of skik na die wêreld nie”.
En die Griekse woord vir laat God julle “verander”, kan ook vertaal word
met “laat God julle transformeer” of “herskep”,
of “’n metamorfose/gedaanteverwisseling laat ondergaan”.
‘n Verkleurmannetjie is ‘n goeie voorbeeld van konformeer. Hy neem
die kleur van sy omgewing aan. Hy skakel in by sy omgewing en lyk soos
sy omgewing.
‘n Skoenlapper, aan die ander kant, is ‘n goeie voorbeeld van metamorfose.
Hy verander van ‘n lelike larwe na ‘n veelkleurige vlinder. Hierdie verandering
vind nie eensklaps plaas nie. Ons kan nooit sê ons het nou in die geloof
“gearriveer” nie. God is deurgaans besig om ons denke deur die Heilige Gees
te verander en te vernuwe! Ons is nie net verander-de mense nie, maar eerder
verander-ende mense. Met die klem daarop dat ons nog steeds verander word.
Om meer en meer aan die beeld van Christus gelyk te word.
Dit is ‘n lewenslange proses. Dit is gevaarlik om te dink jy het nou klaar verander.
Jy is nou wie en hoe jy moet wees. Dan weerstaan jy die voortgesette werk van
die Heilige Gees in jou. Jy weerstaan die groei wat moet bly plaasvind!
Daar is ‘n Engelse aanhaling wat sê: “Is your mind made up? Then, you live
alone. Made-up minds belong to some of the loneliest people around.”
Mense wat konformeer of “aan hierdie sondige wêreld gelyk word”, is altyd
besig om nog iets by sy of haar lewe te voeg. Die wêreld leer ons dat ons “meer”
nodig het en meer soos die wêreld moet wees. Want, “meer is beter”, is die
wêreld se leuse. Die konformis val daarvoor.
Mense wat deur die Heilige Gees van ‘n ou mens na ‘n nuwe mens in Christus
verander word, en stééds verander word om aan sy beeld gelyk te word,
is geleiers van Christus se krag na die wêreld! Hulle maak ‘n verskil aan die
wêreld, en nie andersom nie. Die verander-ende mens fokus op wie hy of sy in
Christus is en op die gawes wat God aan hom of haar gee om mee te dien in
hierdie wêreld. God te dien. En mense te dien.
Ernest