Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie,
maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe...”
Ons kan konformeer en soos die wêreld wees. Of ons kan verander en as
verander-ende mense deurgaans onder leiding van die Heilige Gees groei,
om meer en meer soos Christus te wees.
Die konformis is altyd besig om nog iets van die wêreld by sy of haar lewe
by te voeg. Die wêreld leer ons dat ons nog meer nodig het,
want “meer is beter”, is die leuse van die wêreld.
Mense wat deur die Heilige Gees verander word om meer en meer soos
Jesus te leef, is geleiers van Christus se krag na die wêreld toe. Hulle maak
‘n verskil aan hulle omgewing, en nie andersom nie.
Die konformis soek ‘n verhoging. Die verander-ende mens soek ‘n bediening.
Die konformis soek meer goed. Die verander-ende mens soek die regte goed.
Die konformis se lewe word deur die samelewing se waardes gelei.
Die verander-ende mens weet Christus-waardes maak ‘n verskil in die wêreld.
Die konformis soek die troos van die liggaamlike en die tydelike.
Die verander-ende mens soek die vernuwing van denke en sin in die lewe.
Die konformis belê in die tydelike. Die verander-ende mens belê in die ewige,
die Goddelike.

Verander-ende mense tree op aan die hand van ten minste vyf riglyne:
Eerstens: Hulle gee hulleself daagliks as ‘n offer aan God. Romeine 12:1:
“...Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik
is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.” Daar waar
ons onsself totaal aan God offer, daar vind verandering plaas!
Tweedens: Verander-ende mense leef eenvoudig en maak dit nié vir ander
mense moeilik of ingewikkeld om te glo nie. Dit gaan in die kerk en die
koninkryk eenvoudig om Jesus!
Derdens: Ons almal is spesiaal vir Jesus, al is nie een van ons dieselfde as die
ander nie. Ons glo verskillend, leef verskillend - elkeen uniek in sy verhouding
met die Here. Ons moet nie soos ander mense probeer wees nie. Ons moet
ook nie ander mense veroordeel waarvan die verhouding met die Here nie
soos die van ons lyk nie. God werk in elkeen se lewe soos Hy wil.
Vierdens: Wees jou beste jý. Laat dáárin die Here jou hele lewe wees.
God het jou uniek geskep en tree in ‘n unieke verhouding met joú.
Vyfdens: Wees proaktief. Ons kan soms niks doen aan negatiewe dinge wat
met ons gebeur nie. Maar ons het verseker ‘n keuse hoe ons daarop reageer.
Kinders van God is nie slagoffers nie! Hulle gaan voort met die lewe in Christus,
ten spyte van!

Om verandering in die wêreld te wil sien, moet óns die verandering in die
wêreld wees wat ons graag sal wil sien.
Daarom het die Here gesê dat ons die sout, en die lig, en die suurdeeg in die
wêreld is, ter wille van die eer van sy Naam!
Die wonderlike is dat God self dit alles deur ons doen:
“...laat God julle verander...”

Ernest