Ons hoor dikwels dat mense moeilik het om te bid...
Hulle wil, maar sukkel, of kan nie...of weet nie hoe nie.
Romeine 8:26 is een van die wonderlikste tekste in die
Woord om ons te help met gebed:
“Die Gees staan ons ook in ons swakheid by; ons weet
nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees
self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde
gesê word nie.”
Iemand het eenkeer raad aan ‘n man gegee wat gesukkel
het om te bid, en regtig graag wou bid. Hy het eenvoudig
vir hom gesê: “Oom, gebed is eenvoudig om met die Here
Jesus te sit en gesels oor wat op jou hart is. Gaan sit rustig
op ‘n stoel en skuif nog ‘n stoel nader vir Hom. Gesels nou
met Hom wat op daardie stoel sit en by jou wil wees!
Sien in geloof vir Jesus wat by jou sit. Hy het belowe Hy is
by ons! Al die dae, tot aan die voleinding van die wêreld.
Christene glo dit dat die lewende Jesus by ons is. Praat met
Hom oor wat in jou hart is, en wat jy op die hart het om oor
te praat. Gesels. In jou taal, met jou begrip.
Niemand verstaan jou taal en jou begrip beter as Hy nie.
Om nie eers te praat van jou hart nie. En nog wonderliker:
Dit wat jy glad nie weet hoé om te sê nie, jou versugtinge
sonder woorde, dit sê die Heilige Gees vir Hom, namens jou!
Sit net by Hom...en luister. Jy sal Hóm ook hoor.”
The Message vertaal Romeine 8:26 so: “If we don’t know how
and what to pray, it doesn’t matter. God’s Spirit does our
praying in and for us.”
Baie van ons sukkel met gebed. Ons koop boeke en lees dit.
Maar baie keer neem ons skuldgevoelens net nog meer toe.
Ons voel ons kan nóg minder bereik wat die boeke voorstel.
Ons wéét gebed is lewensbelangrik...maar sukkel steeds.
Ons wil ook soos die dissipels vra: Here, leer my bid!
Ons raak nog meer onseker as ander mense getuig van hulle
gebedslewe en die seën daarin.
Hoekom werk dit nie vir my nie?
Don Chapman het hieroor wonderlike raad gegee.
Kort en kragtig Raad wat raakvat! Hy sê:
“Pray as you can, don’t pray as you can’t.”
Dink eers mooi hieroor voor jy verder lees...
Hy sê ook: “The best way to pray is the way you pray best.”
Dit is baie van ons se probleem! Ons leer êrens om op ‘n
sekere manier te bid, soos in die kerk, of by die skool, of by
die huis, of deur iemand wat sê...dít is hoe jy moét bid.
En dit werk nie vir jou en hoe God joú gemaak het nie.
Ontdek wié en hoé jý is, en begin so bid in jou verhouding
met die Here. Sit saam met die Here in ‘n stoel, of bid op die
pad terwyl jy bestuur, of terwyl jy loop in die natuur.
Wanneer jy nie kan slaap nie, lê net en gesels met die Here.
Oral kán jy bid. Oral! Kán jý!
Wanneer jy nét op jou knieë bid, bid jy te min...
Geniet dit om met die Here te gesels.
Oók oor hartsake, kán jý!
Ernest