Onthou wat Don Chapman oor gebed gesê het:
“Pray as you can, don’t pray as you can’t.”
En: “The best way to pray is the way you pray best.”
1 Tessalonisense 5:17 sê kort en kragtig: “Bid gedurig.”
Gebed is dus ‘n lewenswyse. As kinders van die Here leef
ons daarin, en daarmee saam. Maar ons het ook elkeen as
kinders van die Here ‘n unieke persoonlikheid, wat op ‘n
ander manier as ander mense in en saam met gebed leef.
Ons leef nie presies dieselfde nie, is nie presies dieselfde nie,
het nie dieselfde agtergrond of geskiedenis nie, en bid ook
daarom nie op presies dieselfde manier nie.
B Duncan het ‘n boek geskryf, Praying Through Your Personality,
oor hoe ons verskillend is, en daarom ook verskillend bid. Dit is
gebaseer op die Myers-Briggs Type Indicater, ‘n standaard toets
wat onder andere 16 persoonlikheidstipes beskryf.
Dit is bevrydend om te weet ons hoef nie dieselfde te lyk of
“goed” te lyk in gebed nie, en dit help ons om vrymoedigheid
te kry in gebed. Ons kan bid volgens wié ons is, en hoé ons is.
Verskillende persoonlikheids-tipes bid verskillend. Ons hoef nie,
en moet nie ‘n resep van gebed volg nie. Dink oor die volgende:
Is jy ekstrovert of introvert?
Dit bepaal hoe jy na die wêreld kyk. Ekstroverte fokus na buite
en kry hul energie daardeur. Introverte kyk meer na binne en kry
hul energie daar. Ekstroverte praat soos hulle dink en introverte
dink voor hulle praat. Dit alles beïnvloed die manier hoe ons bid.
Ekstroverte bid makliker in die openbaar, met oop oë, met musiek...
Introverte raak makliker stil en geniet die “alleen” wees saam met
die Here. Introverte en mense in kloosters se manier van bid werk
nie noodwendig vir ekstroverte nie.
God skep introverte en ekstroverte en een is nie reg en die ander
verkeerd nie. Bid soos wie en hoe jý is.
Neem jy waar deur gewaarwording (“sensing”),
of deur ingewing (“intuition”) ? Gewaarwording-mense soek inligting
en feite. Hulle is dikwels detail mense. Hulle sien die bome.
Ingewing-mense sien die woud raak, die patrone, die “groter prentjie”.
Die een sien die detail in die Skrif raak, en die ander een let dit nie
noodwendig op nie, en tel eerder die innerlike betekenis op ten opsigte
van mý. Gewaarwording mense wil makliker met ‘n lysie bid wat inligting
gee waarvoor hulle kan bid, en ingewing-mense steek ‘n kers op en bid
makliker in stilte sonder woorde en detail.
Bid soos wie en hoe jý is.
Dan kry ons ook dinkers (“thinkers”) en gevoelsmense (“Feelers”).
Dit is die manier waarop ons besluite neem. Dinkers maak staat op logika,
voordele en nadele. Gevoelsmense maak staat op waardes. Dinkers wil
weet wát wáár is en gevoelsmense wil weet wát góéd is. In gebed wil
gevoelsmense ervaar, hoe hulle harte warm word, soos die van die
Emmausgangers in Lukas 24:32. Dinkers wil meer vanuit beginsels bid.
Die een is nie reg en die ander verkeerd nie.
Bid soos wie en hoe jý is.
Daar is ook twee maniere om te onderskei in watter soort “wêreld”
‘n persoon leef. Dié wat gevolgtrekkings maak (“judging”), en die wat glo
die lewe is steeds oop en onvoltooi, en daarom moet jy steeds bly inligting
inwin (“perceiving”). “Judging” mense wil eerder bepaalde orde in gebed
hê. Roetine in gebed is belangrik. Hulle moet vir God vra vir die gawe van
spontaneïteit sodat die Gees hulle kan verras. “Perceivers” is meer oop,
spontaner, en sal weer die Here moet vra vir orde omdat hulle dit moeilik
vind om gereeld tyd te maak vir gebed.
Bid soos wie en hoe jý is.
Dit sal jou bevry van skuldgevoelens en jou laat besef dat jý kán bid!
Daarom dat 1 Tessalonisense 5:17 sê: “Bid gedurig.” Dit is ‘n leefwyse.
En jý kán dit doen en so ‘n leefwyse leef omdat jy dit uitleef met wié en
hoé jý is! Leef dit! Bid gedurig.
Ernest