Gestel jy gee vir ‘n drie-jarige ‘n inkleurboek en vetkryte
en sê hy moet iets inkleur. Kort daarna hardloop hy
opgewonde terug na jou toe met sy eerste “kunswerk”.
Die son is groen, die huis is blou en die boom rooi ingekleur.
Jy is vol bewondering en wys dit vir almal omdat dit jou kind
se eerste inkleur kunswerk is! ‘n Klein kindjie kan nie “sleg”
inkleur nie. Nog minder kan ‘n kind van God ‘n slegte gebed bid.

Ons maak gebed te ingewikkeld en dit ontneem mense die
vrymoedigheid om te bid. Gebed bly ‘n tweegesprek met God.
In hierdie gesprek is daar tye van praat, tye van luister, en tye
van net stil wees waarin ons en God mekaar se teenwoordigheid
waardeer. Dit is soos die twee vriende wat saam braai en lank in
stilte net vir die vuur sit en kyk. Wanneer hulle uitmekaar gaan
sê hulle: “Dít was nou lekker”. Daar is te min daarvan in ons
gebedslewe. Om net God se teenwoordigheid te geniet.

Dat ons moet bid is ononderhandelbaar. Paulus sê ons moet
gedurig bid – 1 Tess. 5:17. Hoé ons bid hang baie van ons
persoonlikheid en ons unieke verhouding met die Here af.
Daarom is Romeine 8:26 so belangrik wat sê die Heilige Gees
help jou met hoé en wát jy moet bid. Die Gees lei ons ook na
die Woord van God aangesien die Woord van God dikwels ook
vír ons praat, en nie net mét ons praat nie. Dink maar aan die
Psalms wat so dikwels vir ons lei om vir God te sê wat op ons
hart is.

Gebed is die gesprek tussen God en ons wat mekaar liefhet!
William Barclay het hieroor gesê dat ons in gebed die volgende
moet onthou:
Die liefde van God wat altyd net die beste vir ons wil gee.
Die wysheid van God wat altyd weet wat tot ons beswil sal wees.
Die almag van God wat dit altyd kan uitvoer.

Daarom is dit so belangrik dat jy ook in jou verhouding met die
Here doelbewus tyd moet maak om te bid. Juis dit lei tot ‘n
lewenswyse van gebed. Catherine Marshall het na ‘n lang gesukkel
om “tyd te vind” vir gebed tot hierdie gevolgtrekking gekom:
“The best time for prayer isn’t found. It’s made.” Ons vind nie tyd
om stil te word nie. Ons moet tyd maak daarvoor, Want die lewe
sal jou in die maalkolk van gejaagdheid insuig. Vind die tyd wat vir
joú die beste werk. William Barclay het gesê stiltetyd is so belangrik
want...“The rhythm of the Christian life is the alternate meeting
with God in the secret place and serving others in the market place.”
Ons gaan nie na stiltetyd om weg te kruip van mense nie, maar om
krag te kry vir mense. Dit is waar God ons wil hê, by stiltetyd en by
mense!

Groei in gebed, soos ‘n kind groei in die inkleur van ‘n prent, sodat
jy kan uitkom by wat Paulus in 1 Tess. 5:17 sê: “Bid gedurig.”
‘n Lewenswyse van gebed waar jy gedurig jou hand plaas in die hand
van God wat die hele skepping in sy hand hou!
Gebed is altyd om jouself oor te gee en jou afhanklikheid van God te
besef en te bely. Gebed is om te weet dat jy nooit die onpeilbare
rykdom van Christus kan uitput nie (Efesiërs 3:8). Gebed is om te
weet dat jy nooit die volheid van God kan uitput nie (Efesiërs 3:19).
Die Heilige Gees lei ons aan die hand in gebed en wys ons die rykdom
wat God vir ons bedoel, wat nooit uitgeput kan raak nie.
Bid!...“sodat jy die lewe kan hê, en dit in oorvloed – Johannes 10:10.
Gebed is om met die Here te praat, wat rééds met jou praat.

Ernest