Wees barmhartig, iemand met sagte oë.
“Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle
sal barmhartigheid bewys word” – Matteus 5:7.
Dr. Karl Menninger, die beroemde sielkundige,
het eendag na sy lesing oor geestesgesondheid
‘n vraag van iemand in die gehoor beantwoord.
Die persoon wou weet watter raad hy aan iemand
sou gee wat voel dat ‘n senuwee ineenstorting op
pad is? Die meeste het verwag dat hy sou sê so ‘n
persoon moet ‘n sielkundige gaan sien. Maar tot
hulle verbasing het hy geantwoord:
“Gaan na die onderdorp, vind iemand in nood,
en doen iets om daardie persoon te help.”

Barmhartigheid is een van die wonderlikste dinge wat
ons aan iemand anders kan doen. Dit is om God se hart
met iemand anders te deel. Dit is God se liefde wat deur
jou dade met iemand gedeel word. Dit is om Lukas 6:36
uit te leef: “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is”.
Barmhartigheid gebeur waar ons mense sien soos God hulle
sien. Kyk met sagte oë na die mense om jou. Kyk na hulle soos
God na hulle kyk. Hanteer mense met deernis, liefde en sorg.

Anthonie van Ruler, die Hollandse teoloog, sê dat barmhartigheid
uitkring soos konsentriese sirkels wanneer jy ‘n klip in die water gooi.
Die eerste rimpeleffek van barmhartigheid is: Waardeer mekaar.
Mense vind vrygewig vreugde in mekaar.
Die tweede rimpeleffek: Mense begin regtig vir mekaar omgee.
Barmhartigheid is om jou te ontferm oor mense wat op een of ander
manier in nood is. Dit is om mekaar se laste te dra – Galasiërs 6:2:
“Dra mekaar se laste, en gee op die manier uitvoering aan die wet
van Christus.”
Die derde rimpeleffek van barmhartigheid is: Vergewe mekaar.
Dit is die moeilikste maar mees verrykendste deel van barmhartigheid.
Nêrens is ons meer soos Jesus as wanneer ons vergewe nie!

Barmhartigheid beteken om reg binne-in iemand anders se skoene te
klim totdat jy kan sien soos hulle sien, dink soos hulle dink en voel soos
hulle voel. Dit is liefde in aksie.
Die praktiese beginsel van barmhartigheid is: As jy dit vir die geringste
doen, doen jy dit vir Jesus. Dit is ‘n opdrag van Jesus self! Ons lees dit in
die gelykenis van die barmhartige Samaritaan waarin Jesus sê:
“Gaan maak jy ook so” – Lukas 10:37. In hierdie gelykenis leer Jesus
ons ten minste vier dinge oor barmhartigheid:
Eerstens: Ons moet mense help. Selfs al het hulle die nood oor hulleself
gebring, soos die man in die gelykenis wat behoort te weet jy loop nie
alleen die pad tussen Jerigo en Jerusalem nie.
Tweedens: Enige mens van enige ras, nasie of volk wat in nood is, is ons
naaste. Al is jy ‘n Jood en hy ‘n Samaritaan! Ons barmhartigheid is so
wyd soos die Here se liefde.
Derdens: Ons hulp moet prakties en daadwerklik wees. Nie net woorde
of leë beloftes nie. Dit help nie jy praat oor die liefde, maar jy het nie
werklike empatie nie. Die Leviet en priester het baie daaroor gepraat,
maar dit nie bewys nie. Egte liefde gaan oor in dade.
Vierdens: moenie wag vir ander om iets te doen nie. Maak self die verskil.
Staan soos Jesus eerste op, en kniel en was voete, ook in barmhartigheid.

Moeder Teresa het gesê: “Jesus kom steeds na ons toe,
in die angswekkende vermomming van die armes.”
Uiteindelik is barmhartigheid voor God een bedelaar, ék,
wat vir ‘n ander bedelaar wys waar hy brood kan kry...
Geseënd is dié wat barmhartig is...” – Matteus 5:7.

Ernest