Leef dankbaar! Wees ‘n dankie-sê mens.
1 Tessalonisense 5:18: “Wees in alle omstandighede dankbaar,
want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
Geen wonder nie dat Marcus Tullius Cicero, wat reeds in 106-43vC
geleef het, gesê het: “Dankbaarheid is nie net die grootste van alle
deugde nie, maar die moeder van almal.”
Ons ken almal die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.
Net so ‘n treffende verhaal is die van die dankbare Samaritaan wat
die U-draai gemaak het en die enigste een was wat vir Jesus kom
dankie sê het na die genesing van die tien melaatses – Luk. 17:11-19.
Hy was boonop ‘n Samaritaan, gehaat deur die Jode...
Dit laat die vraag ontstaan hoé ons in dankbaarheid mense behandel
wat anders is as ons, en in die uithoeke van die samelewing leef?
Ons dankbaarheid teenoor God word juis getoets in hoe ons mense
behandel wat minder het as ons.
Clyde Best vertel van ‘n boemelaar wat vir hom gesê het: “I don’t need
anybody to pray for me. I just need somebody to talk to that will treat
me like a human being.” Kan jy jou indink hoe beïndruk die tien
melaatses was dat Jesus hulle soos mense behandel het!? Almal het
hulle soos honde verjaag, en hier kom behandel Hy hulle as beeld van
God. Dit maak weer die lewe vir hulle die moeite werd. En tog draai
net een om en kom sê dankie. Wat sê dit van ons?
Dr Albert Schweitzer was al 85 jaar oud en het teen ‘n bult uit in die
Afrika warm son saam met ‘n groep mense gestap. Hy het ‘n vrou
gesien wat ‘n bondel swaar hout op haar skouers die bult opdra.
Hy het na haar toe gestap en die hout vir haar tot bo gedra.
Die klomp besoekers saam met hom het gesê hy stel sy gesondheid
in gevaar! Albert Schweitzer het na die vrou gewys en gesê:
“Niemand behoort ooit so ‘n las op haar eie te dra nie.” Hy het die
hart van Jesus gehad. Jesus kyk na die tien melaatses en sien mense
wie se nood en las te swaar is. Jesus reageer met liefde en sê hulle
moet hulle aan die priesters gaan wys om die toets te slaag vir
terugkeer tot die normale lewe. Op pad soontoe is hulle genees!
Elke keer as jy iemand sag behandel, wys jy jou dankbaarheid
teenoor God!
Jesus vra dan vir die Samaritaan wat kom dankie sê wáár die
ander nege is? Gebrek aan dankbaarheid lê dieper as wat ons dink.
Dit is moeilik om die erns van die tien melaatses se situasie te oorskat.
Hulle kon nie saam met hulle families leef, of werk, of aanbid nie.
Melaatses was vir alle praktiese doeleindes dood. Die Jode het selfs die
genesing van ‘n melaatse gesien as gelykstaande aan die opwekking
van ‘n dooie – 2 Konings 5:7. Jesus gee hulle lewe! En net een draai om,
en kom sê dankie...
Dit is deel van die menslike natuur om gou te vergeet en dan ook
ondankbaar te wees. Meister Eckhart se woorde is so waar:
“As dankie die enigste gebed is wat jy ooit bid, is dit genoeg.”
Dankie-sê is inderdaad ‘n opdrag van God. Kyk weer na 1 Tess. 5:18:
“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in
Christus Jesus van julle verwag.” God verwag dat ons dankbaar sal
wees, dankie-sê mense sal wees.
Elke Vrydag, tot met sy dood in 1973, het Eddie Rickenbacker aan die
ooskus van Florida met ‘n emmer vol garnale afgeloop see toe en die
seemeeue gaan voer. Hoekom? In Oktober 1942 was hy ‘n bemanningslid
van ‘n B-17-bomwerper wat met nog sewe ander bemanningslede in die
Stille Oseaan neergestort het. Hulle het in die middel van die oseaan op
reddingsbootjies rondgedobber sonder enige kos. Net ‘n wonderwerk
sou hulle red. Hy het daarvoor gebid en hulle het saam ‘n loflied gesing.
Toe gebeur dit! ‘n Seemeeu het op Eddie se hoed kom land! Hy het hom
gevang en hulle het die seemeeu geëet. Met die binnegoed van die
seemeeu het hulle visse gevang en die geëet. Met die binnegoed van
die visse het hulle nog visse bly vang en so aan die lewe gebly tot hulle
uiteindelik gered is! Almal het oorleef! Wat het ‘n seemeeu in die middel
van die oseaan gesoek, en op Eddie se hoed gaan sit? Net God weet...
Eddie het die res van sy lewe seemeeue gevoed uit dankbaarheid vir God
se reddingsdaad. Vir 30 jaar lank...ongeveer 1500 Vrydae, elke Vrydag!
Wat het hom gemotiveer? Dankbaarheid. Konkrete dankbaarheid teenoor
God...vir lewe! Hoe leef jý konkreet jou dankbaarheid uit teenoor God...
vir lewe! Vir redding!
Ernest