Die egtheid van ons dankie-sê teenoor God word ook
getoets in ons dankies teenoor mense. God werk deur
mense met ons. God se seëninge kom so dikwels deur
mense na ons toe. Ons dink dalk ons sê nie dankie vir
die persoon nie, en intussen sê ons ook nie dankie vir
God nie. Laurence Peter het gesê: “Niemand is te groot
om dankie te sê nie; maar party is te klein.” Miskien sê
die aanhaling meer as jy dit omdraai: “Niemand is te klein
om dankie te sê nie, maar party is te groot.” Sekere mense
leef uit die hoogte teenoor ander mense en sê nie dankie
aan die geringes nie. Hulle dink te veel van hulleself.
Dink ‘n bietjie na oor die mense wat deur God gebruik is
om ‘n genesende krag in jou lewe te wees. Dink aan mense
wie se teenwoordigheid in jou lewe jou verryk het.
Mense deur wie jy die seën van die Here konkreet beleef het.
Jou ouers, ‘n onderwyser miskien, ‘n goeie vriend, ‘n kollega,
‘n mentor, jou huweliksmaat, jou kind dalk...
Gaan sit nou en dink na oor hierdie persoon se invloed in jou
lewe. Hoe jy daardeur gegroei het in jou menswees. Gaan nog
verder: Skryf ‘n kort paragraaf daaroor terwyl jy daaroor nadink.
Oor die invloed van hierdie persoon of persone in jou lewe.
Kontak nou hierdie persoon of persone en betuig spontaan jou
dank teenoor hom of haar. Indien die persoon nie meer leef nie,
deel dit met ‘n naasbestaande van die persoon. Indien dit ook
nie moontlik is nie, dank die Here vir hierdie persoon se invloed
in jou lewe. Deel eenvoudig konkreet jou dankbaarheid.
Kom ook soos die dankbare Samaritaan wat van melaatsheid
genees is en ‘n U-draai na die Here toe gemaak het om dankie
te sê. Met danksegging. Laat dankbaarheid konkreet wees in
jou lewe. Nie net teenoor die Here nie, maar ook teenoor
mense wat die Here oor jou pad stuur. Maak dankbaarheid jou
leefstyl en laat dit opreg uit jou hart kom.
John Henry Jowett sê die volgende waarhede oor dankbaarheid:
‘n Lewe sonder dankbaarheid is ‘n lewe sonder liefde en passie.
Hoop sonder dankbaarheid kan nie ver sien nie.
Geloof sonder dankbaarheid het ‘n gebrek aan geloofskrag en
deursettingsvermoë.
Enige iets wat geskei is van dankbaarheid is gewond en loop
mank op die lewenspad.
Ernest