Wanneer ons in God se lig staan, is daar oral
Goddelike skoonheid. In sy lig is daar nie plek vir
duisternis nie. Ware, opregte liefde, soos God dit
bedoel, staan in God se lig.

Wanneer Jesus die Jesus-credo in Markus 12:29-31 uitspreek,
begin Hy dit met die Sjema van Deuteronomium 6:4-5:
“...Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here...”
Die Sjema plaas ons in God se lig! Wanneer die Here ons God
werklik jóú enigste God is, wat jy met jou hele lewe aanbid,
sal al die ander verhoudings en dinge in jou lewe gekleur word
met God se liefde, déúr jou. Jesus volgelinge weet een ding
verseker: Hulle weet hoé afhanklik hulle van God is,
en dat hulle nie sonder Hom kan leef nie.

Wat is die Sjema? Sjema is ‘n oproep om God lief te hê,
en om ons eie uniekheid en ons naaste se uniekheid te besef.
Die Sjema sê: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die
enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart
en siel, met al jou krag.” Hierdie Hebreeuse woord – Sjema –
het nie net die betekenis van luister nie, maar juis ook van
gehoorsaam wees. Om “reg te luister” na God het altyd
“die regte optrede” tot gevolg.

Die Sjema sê Wie God is, om jou te help om God lief te hê en
jou naaste lief te hê. Die volgende gebeure illustreer dit:
Na ‘n 30 dae retraite keer ‘n priester terug na die klooster.
Oor ontbyt die volgende oggend word hy deur ‘n ou priester
van die kloostergemeenskap, ‘n regte ou suurknol en klakous,
gekonfronteer: “Ons het gewerk soos slawe terwyl jy rondgerits
het en niks gedoen het nie. En kyk na jou. Jy lyk nie eers anders
na die retraite nie.” Die ander priester het geantwoord:
“Jy is doodreg. Ek lyk waarskynlik nie anders nie. Maar jý lyk nou
vir my anders, deur die liefde van die Here in my lewe.”

Die Sjema, wat aan jou voorhou dat die Here ons God die enigste
Here is, laat jou anders kyk na God en na alle mense.
Mense lyk anders...dinge lyk anders. Alles lyk God-mooi!
Wanneer ons leer om God bo alles lief te hê,
sal ons ander mense liewer hê as ooit.

Ernest