Hoe het ‘n mens God lief? Jesus sê met jou hele hart, hele siel,
hele verstand, en al jou krag. The Message vertaal die vier dinge
so: “passion” (hart), “prayers” (siel), “intelligence” (verstand),
en “energy” (krag). In Jesus se woorde oor die liefde vir God kom
een ding duidelik na vore. Dit is die héélhartigheid waarmee ons
moet liefhê. Let op: Hy praat van ons héle hart, héle siel, héle
verstand, en ál ons krag. As ‘n mens God eerste in jou lewe wil
plaas en so al jou liefde vir Hom wil uitleef, moet jy begin by
hierdie begrippe van “héle” en “ál”. Kom ons kyk daarna:

Om God lief te hê met jou hele hart: Jou hart is die plek waar
jou emosies gesetel is. Ons Vader wil graag hê dat sy kinders,
vir wie Hy so lief is, ook hulle liefde vir Hom moet toon en met
passie vir Hom moet leef, soos Hy ‘n passie vir ons het!
Ons doen dit deur sy koninkryk eerste te stel, sy “koninkryk te
laat kom”, dit wil sê om sy wil hier te laat geskied, deur ons.

Om God lief te hê met jou hele siel: ‘n Mens se siel is wie jý is,
hoe God jou geskep het, met jou unieke persoonlikheid. Dit is
die kern van joú wese. Dit is joú LEWE in hoofletters. Die lewe
wat net God vir elke mens indiwidueel gee. Hierdeur word joú
liefde vir Hom verwoord deur joú unieke stem, uit joú unieke
siel, wat anders is as enige ander stem wat God uit die hele
skepping hoor! Jou siel is die uitdrukking van dit wat jou uniek,
en spesiaal, en anders maak as enige iemand anders. Dit sal
gehoor word in hoe jy in jou intieme verhouding met God praat.
Daarom vertaal The Message “hele siel” met “prayers”.

Om God lief te hê met jou hele verstand: Dit beteken om God
se woorde in jou verstand te laat plant deur die Heilige Gees,
en te laat groei om vrug te dra wat blywend is. Die rede is dat
God se woord jou denke verander. In hierdie verband is Fil. 4:8
treffend: “...alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is,
alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is
– watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees –
daarop moet julle julle gedagtes rig.”

Om God lief te hê met al jou krag: Dit is die manier waarop jou
gedagtes en gevoelens met die wêreld in aanraking kom, en
dat jy dan daarin al jou energie gebruik om vir God ‘n verskil
in die wêreld te maak. Jy verteenwoordig Hom! Bogenoemde
Fil. 4:8 help ons juis daarin.

Die Joodse Sjema het hier opgehou. Maar dan voeg Jesus
hierdie unieke by: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Liefde vir God kan nooit geskei word van liefde vir jou naaste
én jouself nie. Dit is met mekaar geïntegreer en onlosmaaklik
deel van mekaar. God het jou lief, en daarom moet jy ook joú
liefhê, maar soos God dit bedoel. Dit is alles behalwe ‘n
selfsugtige liefde. Dit is ‘n liefde wat in nederigheid die ander
hoër ag as jouself omdat jy jouself aan God gee as lewende en
heilige offer wat vir Hom aanneemlik is!

Die Bybel, 66 boeke, 1189 hoofstukke. As ons dit is een jaar
wil deurlees teen 3 hoofstukke per dag, sal dit ons ongeveer
92 uur neem teen 5 minute per hoofstuk. Hoe sou jy dit alles
aan die einde opsom? Jesus doen dit met 9 woorde:
“Soos Ek julle liefhet moet julle mekaar ook liefhê” – Joh. 13:34.
Dit dra dieselfde boodskap as sy opsomming in Markus 12:29-31.

Jesus maak dit só eenvoudig dat niemand kan twyfel oor wat Hy
bedoel nie! Jy moet God bo alles liefhê en jy moet ander mense
liefhê soos Hy ons liefhet. Hiermee kan jy geensins twyfel wie of
hoe jy moet liefhê nie. Alle mense! Soos Jesus! Wanneer jy met
die passie van Jesus hiermee besig is, sal baie ander onnodige
vrae jou nie meer besig hou nie. Jy sal te besig wees hiermee.
Want dit is die kern van jou hele bestaan, en die kern van God
se wil vir jóú! Hom bo alles. Altyd. Oral. Met almal.

Ernest