Kyk, aan Jesus se liefde kan jy nie twyfel nie. Daarom kan
jy weet hoe jou liefde vir ander behoort te wees. Dit is ‘n
Jesus-liefde! Soos Jesus liefgehad het en ons steeds liefhet,
so moet ons ander mense liefhê. Die Jesus in my wil die
Jesus in jou liefhê. Elke mens geskep na die beeld van God.
‘n Jesus-liefde kan die pyn, die suur en die sout van die lewe
hanteer. In alle verhoudings. ‘n Jesus-liefde is daadwerklik.
Jy wys vir ander mense jy is vir hulle lief, en jy doen teenoor
hulle soos iemand wat hulle liefhet. Jy laat mense ‘n stukkie
hemel op aarde beleef. Jy leef onvoorwaardelik die liefde
van die Here uit.
Die Jesus-credo van Markus 12:29-31 beklemtoon dit dat jou
liefde vir God gesien word in jou liefde vir jou naaste.
Lees dit net weer: Jou liefde vir God word gesien in jou liefde
vir jou naaste. Lees dit weer...nog ‘n keer.
In die proses wat jy liefde gee, deel jy iets van God met jou
medemens. Jy maak soos God maak. Jy gee liefde sonder
enige voorwaardes. Jy ervaar en gee iets heiligs. Dit kom van
God af, deur jou, na iemand.
Iets wat ons nie kan ignoreer nie is dat Jesus sê jy moet jou
naaste liefhê “soos jouself.” Carl Jung, die sielkundige, het
hieroor gesê: “Wat as jy ontdek dat die “geringste van hierdie
broers” waarvan Matteus 25 praat, die een wat jou liefde die
meeste nodig het, vir wie jou liefde die meeste sal beteken –
jy self is!”
‘n Dogter met ‘n geweldige selfbeeld probleem is deur haar
pa gehelp om nooit weer daarmee te sukkel nie. Sy was ‘n
toegewyde Christen maar het gesukkel om haarself te aanvaar.
Hy het voor die spieël gaan staan en vir haar gesê:
“Jy gooi water oor jou gesig en sê: “In die Naam van die Vader”,
die tweede keer “in die Naam van die Seun”, en die derde keer,
“in die Naam van die Heilige Gees”...ek behoort aan God wat
my liefhet, hy sien my as sy kind, vol genade en skoonheid!”
Die dogter het dit gesnap en haarself begin sien soos God haar
sien en liefhet. God se genade gee ons ook ‘n lewens-
veranderende God-perspektief oor onsself. Ons kyk anders na
onsself en ons “...sal straal van blydskap oor die goeie wat deur
die Here gegee word” – Jer. 31:12.
Paulus beskryf ook in 1 Kor.13:7 die gewoontes van
Jesus-liefde teenoor ander mense:
Jesus-liefde bedek alles: Dit sal nie die foute en gebreke van
ander in die openbaar aan die groot klok ophang nie.
Jesus-liefde glo alles: Die liefde het twee kante. In ons verhouding
met God beteken dit dat ons liefde vir God Hom op sy woord neem
vir wat Hy aan ons sê. En in ons verhouding met ons medemens wil
liefde altyd die beste glo oor ons medemens.
Jesus-liefde hoop alles: Jesus het geglo geen mens se lewe is ‘n
hopelose saak nie. Die hoop-kant van liefde is die weiering om
mislukking in jou eie of ander se lewe as finaal te aanvaar.
Jesus-liefde verdra alles: Deurdat ons alles verdra wat met ons
gebeur, of wat mense aan ons doen, kan ons die negatiewe oorwin
en verander tot eer van God.
Teilhard de Chardin het gesê: “Eendag, nadat ons die wind,
die branders, die getye en die swaartekrag bemeester het,
sal ons vir God die energie van liefde inspan. Dan sal dit wees asof
ons vir die tweede keer in die geskiedenis vuur ontdek!”
God se liefde wat brand soos ‘n vuur en nie uitgeblus kan word nie.
Wanneer ons soos Jesus liefhet, neem die energie van die liefde –
die vuur van die Heilige Gees – ons lewe oor sodat die wêreld nuut
kan leef. Nou reeds.
Goeie genade, jy is spesiaal, want God het jou lief,
en jy kán liefhê met Jesus-liefde!
Ernest