Matteus 5:37: “Laat julle “ja” eenvoudig “ja” wees
en julle “nee”, “nee”. Wat meer gesê word as dit,
kom van die Bose.”
Larry Crabb maak ‘n belangrike opmerking hieroor,
wat ons baie kan help in besluitneming:
“Pleasing God brings pleasure, pleasing people brings pressure!”
Lees dit weer en oordink dit ten opsigte van jou eie lewe...
Laat jou “ja” eenvoudig “ja” wees, en jou “nee” eenvoudig “nee”.
The Message vertaal bogenoemde teks so: “Just say “yes” and “no”.
When you manipulate words to get your own way, you go wrong.”
Dit help ons om te verstaan wat Jesus sê. Jesus sê hierdie woorde
in die konteks daarvan om ‘n eed af te lê. Maar hieruit leer ons baie
in terme van ons alledaagse “ja” en “nee” keuse en uitspreek daarvan.
Jesus sê eintlik in die konteks dit: ‘n Werklike Jesus-volgeling behoort
nooit ‘n eed af te lê nie, want die waarheid van sy woorde en die
werklikheid van sy uitvoering daarvan, benodig nie die waarborg van
‘n eed nie. ‘n Jesus-volgeling is deursigtig en word geken daarin dat
hy of sy in die waarheid leef en optree.
In Matteus 21:28-32 vertel Jesus ‘n gelykenis van twee seuns wat in
‘n wingerd moes gaan werk. Dit is na aanleiding van die Fariseërs
wat dit vir Hom moeilik wil maak en Hom wil vasvra. Dan antwoord
Hy hulle met hierdie gelykenis. Hoekom antwoord Hy die Fariseërs
nie sommer reguit nie? Jesus wil ‘n spesifieke strategie volg.
Jesus het met sy lewe, dood en opstanding gewys en bewys dat Hy
die Seun van God is en dat Hy op gesag van God opgetree het.
Dikwels is die manier hoe jy leef die beste antwoord aan jou kritici.
Dit bewys hulle verkeerd.
Hierdie ware verhaal van George Washington Goethals vertel dit
ook en help ons om te verstaan wat Jesus se optrede behels ten
opsigte van die Fariseërs:
Terwyl hy besig was om die Panama-kanaal te bou, het hy baie
kritiek verduur van al die “know-it-alls” (“Fariseërs”). Daar was
baie geografiese en klimaat-probleme met die bou van die kanaal.
Sy kritici het voorspel dat hy nooit die kanaal sou klaarmaak nie.
Die projek was te groot en hulle het beweer hy is uit sy diepte.
Maar die grootse ingenieur het net aangehou met sy werk en niks
gesê nie. Hy het hulle nie reguit geantwoord en homself probeer
verdedig nie. In ‘n onderhoud het iemand aan hom gevra:
“Gaan jy nie jou kritici ten minste antwoord nie?” Hy het net gesê:
“Op die regte tyd sal ek hulle antwoord.” Die onderhoudvoerder
wou weet: “Maar hoé?” Die grootse ingenieur het met ‘n glimlag
gesê: “Met die kanaal!” Vandag staan die Panama-kanaal as ‘n
lewende bewys dat Goethals reg was!
Jesus het met sy lewe bewys dat sy kritici, die “know-all” Fariseërs,
verkeerd is.
Laat jou “ja” eenvoudig “ja” wees, en jou “nee” eenvoudig “nee”.
Moenie jou asem eers mors met mense wat negatief is nie.
Laat jou lewe jou antwoord wees. Kyk verder na die bogenoemde
gelykenis van Jesus: Die pa het vir die een seun gesê hy moet
vandag in die wingerd gaan werk. Hy antwoord: “Ek wil nie!”
Later kry hy spyt en gaan werk tóg. Die ander seun sê: “Goed, Pa,”
maar hy het nié gegaan nie. Jesus vra dan in vers 31: “Wie van die
twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle antwoord:
“Die eerste.”
Ons kry in die lewe doeners en praters. Gehoorsaamheid word
gedoen, en nie net gepraat nie. Iemand sê jy spel gehoorsaamheid:
D-O-E-N ! God vra van ons om te doen. Dit is ook wat dit beteken
dat jou “ja” eenvoudig “ja” is, en jou “nee” eenvoudig “nee” is.
Die betekenis van die gelykenis van Jesus is in die konteks glashelder.
Die Joodse leiers is die mense wat sê hulle sal gehoorsaam wees aan
God, en hulle was nie. Die tollenaars en prostitute is weer die mense
wat gesê het hulle gaan hulle eie ding doen, en toe God se ding
gedoen het! Onthou, hierdie gelykenis is die prentjie van twee
onvolmaakte groepe mense. Ja-nee, en nee-ja mense. Maar die
gehoorsames was uiteindelik die wat gaan doen het wat God vra.
Die ideaal is ja-ja mense. Wat vir God “ja” sê en dit doen!
Dit is gehoorsame mense.
Daarom moet ons reg luister na God, en op grond daarvan ook reg
gaan doen, vir God. Reg luister het die regte optrede tot gevolg.
Gehoorsaamheid maak jou vry. Hoe meer ons aan God gehoorsaam is,
hoe meer werklik raak God in ons lewe. So groei ons ook meer en meer
in ons liefde vir God. En hoe meer en meer leef ons soos Jesus.
Hoe meer en meer is ons “ja” dan ook inderdaad “ja”,
en ons “nee” eenvoudig “nee”. Ons lewe bevestig dit ook!
Ernest