Jesus-volgelinge is nie kerm-en-kla mense nie.
Filippense 2:14-15: “Doen alles sonder kla en teëpraat.
Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly,
onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en
korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld.”
Mense wat heeltyd kla maak jou lam. En naderhand is die een
se storie beter as die ander, en die klaery net al groter. Dit is
glad nie energie-gewend nie, maar tap jou energie.
Jon Gordon skryf in sy boek, The No Complaining Rule, hierdie
waar woorde: “I come from a long line of complainers. After all,
my ancestors walked around the desert complaining for 40 years!
In a trip that should have taken 11 days, it took them 40 years!
Talk about inefficiency. But that’s what complaining does.”
Hoekom die opdrag van Filippense wat sê ons moenie kla nie?
Om nie te kla en teë te praat nie, het ‘n doel. Daardeur wys ons
dat ons kinders van God is. “Onberispelike kinders van God...”,
soos die teks sê. Omdat ons kinders van God is, kla en praat ons
nie teë nie. Wanneer die woord “kla” in die Bybel gebruik word,
bv. in Num. 11:4-6, Matt. 20:11, Luk. 5:30, Joh. 6:41, en 1 Pet. 4:9,
word dit altyd in ‘n slegte sin gebruik. Soos: selfsugtige kla,
ongebalanseerde kritiek ten opsigte van klein dingetjies, ongeduld
teenoor dinge wat nie verstaan word nie, en ‘n teensinnige en
onwilligheid om te help. “Kla” word gewoonlik openlik en uiterlik
gewys, en versinnebeeld gewoonlik ‘n negatiewe houding teenoor
die lewe.
Teëpraat, bevraagtekening, of verset, aan die ander kant, is weer
iets wat innerlik plaasvind. ‘n Houding en aktiwiteit van die gedagtes
en die hart, wat korrespondeer met die uiterlike sigbaarheid van kla.
Filippense 2:14 dek al ons aksies teenoor ander mense, sowel as ons
gedagtes oor hulle. Ons moet versigtig wees om nie in die lokval van
kla te beland nie. Dit is nie waar die Here ons wil hê nie. Wanneer ons
nie van iets hou nie moet ons dit verander. En wanneer ons dit nie kan
verander nie, moet ons ons manier van dink daaroor verander!
Maar moenie kla nie. Klakouse kan nie God se lig laat skyn nie, is die
betekenis van die laaste deel van vers 15.
Hoe kan ons “kla” teenwerk? Jon Gordon gee raad:
Eerstens: Beoefen dankbaarheid. Die feit dat jy lewe, en ‘n kind van
God is, gee reeds sin aan jou lewe en is meer seën as enige iets wat
jou negatief en klaerig kan maak. Dit is nie naïef nie. Dit is ‘n Bybelse
waarheid. Dankbaarheid verjaag ‘n kla-gees.
Tweedens: Prys en waardeer ander mense. Fokus eerder op wat
mense reg doen, as op foute. Ons almal maak tog foute! Almal!
Derdens: Fokus op die positiewe. Wanneer jy in die dag of aand bid,
praat doelbewus met die Here oor die positiewe wat jy vandag beleef.
Vierdens: Laat gaan...”let go”. Hou op om alles te probeer beheer of
verantwoordelikheid vir alles te aanvaar. Laat dit wat buite jou beheer
is in God se hande en vertrou Hom. Net God is werklik in beheer.
Al dink jy dat jy is...
In die vyfde plek: Bid! Gesels gereeld met die Here. Wanneer jy stres,
of wil kla, gesels in die eerste plek met die Here daaroor. Word stil by
Hom daaroor. Kry die perspektief wat Hy jou wil gee daaroor. Hy is jou
Kragbron wat jou energie herlaai. Gehoorsaam Hom in die situasie.
Op ‘n vraag hoekom sy kerkmusiek so opgeruimd is het Franz Josef
Haydn geantwoord: “Wanneer ek aan God dink, wil my hart oorloop
van vreugde...Aangesien God my ‘n opgewekte hart gegee het, sal dit
my verskoon word as ek Hom met ‘n opgewekte gees dien.”
Kry die perspektief wat God jou wil gee binne jou omstandighede,
en gehoorsaam Hom dan binne-in die omstandighede. Dan sal jy nie
negatief en klaend en teë-praterig wees nie.
Let op: Die laaste deel van die bogenoemde Filippense teks sê:
Tree op as ligdraers in hierdie wêreld.
Kla en teëpraat weerkaats nie God se lig nie.
Ernest