Iemand het gevra: “Wat is die leerplan van die Bybel?” En toe
die antwoord: “Om meer en meer soos Jesus te leef” – 1 Joh. 2:6.
Dit is ‘n lewenslange leerskool. Jy kan nooit sê jy is nou klaar met
hierdie leerskool nie. Dit is waaroor ons hele lewe gaan:
Om onder leiding van die Heilige Gees, meer en meer soos Jesus,
te leef, tot eer van God ons Vader.
Galasiërs 5:16: “...Laat julle lewe steeds deur die Gees van God
beheer word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle
sondige natuur nie.”
Galasiërs 5:25: “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook
ons gedrag bepaal.”
Daar is die onbybelse siening in die omloop dat net sekere Jesus-
volgelinge die Heilige Gees “het”. Dit is nie waar nie. Alle Jesus-
volgelinge “het” die Heilige Gees.
Hoekom “het” in aanhalingstekens? Want ons “het” nie die
Heilige Gees nie. Die Heilige Gees het ons! Jesus het dit belowe in
Johannes 14:16-17 en Handelinge 1:8. Jesus belowe dat die Heilige
Gees in sy volgelinge sal werk. Hierdie daaglikse werk van die Heilige
Gees bring die vrug van die Gees – Gal. 5:22-23. Dit is hierdie vrug
van die Gees wat ons al hoe meer soos Jesus laat leef, 2 Kor. 3:18.
Die doel van die Heilige Gees is om die lig op Jesus en die Vader te
laat skyn. James Packer verduidelik dat dit soos ‘n kollig werk.
Wanneer spreiligte goed werk word dit so geplaas dat jy nie eintlik
sien waar die lig vandaan kom nie, maar duidelik kan sien wat verlig
word. Jy kyk nie in die lig nie, maar sien dit waarop die lig val.
Die Gees is soos “onsigbare spreiligte” wat op Jesus die Redder skyn.
Die Gees se boodskap is altyd: Kyk na Hom. Sien Hom. Luister na Hom
en hoor sy Woord. Gaan na Hom en ontvang oorvloedige lewe!
C.S. Lewis het gesê: “If you think of the Father as someone “out there”
in front of you and of the Son as someone standing at your side helping
you, trying to turn you into another son, then you have tot think of the
Holy Spirit as someone inside you, or behind you.” Wat jou fokus op die
Vader en die Seun.
Die Heilige Gees lewer God se Woord af by jou, en jou gebede by God.
Die Heilige Gees “tolk” jou gebede by God. CH Dodd stel dit aangrypend:
“Prayer is the Divine in us appealing to the Divine above us.”
Die Heilige Gees is ons 24/7 metgesel wat ons aanmoedig, bemoedig en
vertroos.
Hy is ons Leermeester wat ons leer om soos Jesus te leef.
Die Heilige Gees herinner ons deurgaans aan die vryheid wat ons, deur
God se genade, in Jesus Christus het. Daarom leef ons nie met vrees nie,
maar die ware lewe, en dit in oorvloed! Ons hoef nie te probeer om
kinders van God te wees nie. Hoe harder ons probeer, hoe minder kan
ons dit regkry. Ons is deur God se genade in Christus sy kinders, en die
vrug van die Gees deur ons, laat ons soos kinders van God leef.
Brennan Manning se mentor het dit so aan hom gestel: “Brennan,
give up trying to look and sound like a saint. It will be a lot easier on
everybody.” In genade hoef jy niks te bewys nie. God het in Christus
alles reeds vir jou gedoen! Jy hoef niks en niemand te beïndruk nie.
Wat ‘n reuse verligting! Selfs geestelike groei is genade! Dit word deur
die Heilige Gees bewerk. Dit is ons identiteit, deur die Gees, sodat ons
daagliks ware lewe kan proe! God lei ons na ons bestemming. Elke dag.
“Everytime we say, “I believe in the Holy Spirit”, we mean that there is
a living God able and willing to enter human personality and change it”
– JB Phillips.
“Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
– Gal. 5:25.
Ernest