Die duiwel probeer steeds om die Christendom se mond te snoer.
Dit is nie vir ons nuus nie. Ons weet dit. Vandag nog moet ons wakker
en nugter wees vir dwaalleraars en dwaal-lering. Ons is nie wakker
genoeg hiermee nie. Dit was al in Johannes se tyd só. Johannes
waarsku die jong gelowiges in die Christendom en gee vir hulle riglyne
hoe om op hulle hoede te bly. Wanneer hulle met ‘n lering te doen kry
waar Jesus nie aanbid word as God nie, het hulle die verkeerde leer beet.
Daarom sê hy in 1 Johannes 4:2: “Ons kan die Gees van God só uitken:
iemand wat nie bang is om verseker te sê dat Jesus Christus mens van
vlees en bloed geword het nie, het die Gees wat van God af kom.”
Ons hoef egter nie in vrees te leef vir dwaal-leringe nie. Ons behoort
aan die familie van God wat ons ook dra en beskerm.
Die geloofsgemeenskap is so kosbaar in ons verhouding met God.
Vers 4 sê: “My kinders, julle is deel van die familie van God en behoort
aan Hom. Daarom staan julle heeltyd aan die wenkant teen hierdie vals
profete. Die rede is eenvoudig dít: God, wat aan julle kant is, is baie groter
en sterker as die een wat aan die kant van die wêreld staan.”
Dit is nou al meer as 2000 jaar dat Jesus aan die kruis gesterf het,
en steeds kon die duiwel of die wêreld nie hierdie waarheid doodpraat
of doodskree nie. Dink net hoeveel aanslae was daar al. Hoe harder die
aanslae is, hoe meer groei die ondergrondse kerk. Want God is groot en
sterk. Almagtig! Ons kan in vrede hierdie stukkie bekommernis, dat die
Christendom bedreig word, aan die voet van die kruis kom neersit.
Ons is in God se hand en God bly in beheer. Ook die Antichris moet ons
nie laat bewe nie.
Maar nog belangriker. Dit geld vir elke stukkie terrein van ons lewe.
Hoe dik is die wolk van onsekerheid wat om jou hang? Hoe deurmekaar
is jou lewe? Onthou hierdie anker:
God, en deur Hom die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is.
Die wêreld met al sy aanslae kon nog nie hulle wat aan God behoort
vernietig nie. En dit sal ook nooit kan nie. Want die geloofsgemeenskap,
die kerk, is hulle wat aan God behoort. En niemand kan hulle uit God se
hand ruk nie – Johannes 10:28 Jy is deel daarvan. Dit geld eerstehands
vir jou! Ons is oorwinnaars in Christus. Ons moet dit nie nog word nie.
Ons is dit reeds! Leef uit hierdie oorwinning.
Dink jy jou probleem is groot? Hoe groot is jou God!!
Ernest