Hoe sou ons die Evangelie in een woord kon opsom?
Waarskynlik sou hierdie een woord dit alles sê: “Liefde!”
Selfs as Jesus die Tien Gebooie opsom, gebruik Hy hierdie
een aksie-woord: Liefde!
Jesus sê dat die hele wet en die profete in hierdie een
aksie-woord inpas: Liefde!
Daarom hoef ons nie eers al die wette en beginsels en riglyne
een vir een uit ons kop te gaan leer nie! Ons kan net die een
vraag vra: Is die kern van wat ek nou dink, sê of doen, liefde?
Dit s waaroor dit prakties gaan. Dit is hoe Jesus dit opsom.
Dink net watter ware verskil liefde gaan maak as dit werklik
oral uitgeleef word. In gesinne, families, vriendekringe, by die
werk, in die samelewing, in die ekonomie en politiek...
Want waar liefde is, daar ontbreek haat, en die verneuk van
mekaar, en leuens...en so kan ons dit aanhou opnoem.
Die liefde is so eenvoudig, en tog so kompleks om dit reg te kry.
Mense verwoes mekaar se lewe weens die gebrek aan,
of afwesigheid van liefde! Want mense is hulle eie gode...
“Waar liefde ontbreek...”, sê iemand dit so sterk,
“...is ons op Godverlate vlakte.”
1 Johannes 4:7-8 stel dit so: “My liewe vriende, laat ons
aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af.
Aan liefde ken ‘n mens die kinders van God uit, want hulle
ken Hom goed. God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie,
weet niks van God nie.”
Hierdie is ontsaglike kragtige woorde! Hierdie woorde is vir
ons elkeen ‘n rooi lig waar ons eers moet stop en mooi moet
dink en besin. Waarmee is ons besig? Hoe leef ons teenoor
ander mense? Wat dink ons, doen ons , en sê ons? Is ons nie
besig om onsself te bluf nie? Het ons werklik lief soos die Here
wil hê ons moet liefhê? Die wat naby aan ons is, en die wat
verder van ons af is? Dink mooi...en neem vandag ‘n lewens-
veranderende besluit oor die vloei van God se liefde deur jou
lewe na ander mense! Dat jy God bo alles sal liefhê, en jou
naaste sal liefhê.
Liefde is ‘n wilsbesluit. Dit is ‘n aksie-woord! Liefde word gedoen.
Don Francisco sing: “Love is not a feeling...it’s an act of your will.”
Begin weer “van voor af” en gaan saai God se liefde met jou hele
lewe. Gaan na alle verhoudings in jou lewe, verhoudings wat in
sak en as lê, verhoudings op “Godverlate vlaktes”, wat doodbloei...
Gaan daarheen met God se liefde in jou en bring weer lewe.
Wonderwerke sal gebeur. Want “God is liefde.” – Vers 8.
Ernest