Geen groter daad van liefde is moontlik nie, as die
liefde wat God in Christus vir die mens kom bewys het.
En ons staan aan die ontvangkant van die grootste liefde
wat daar is!

Die vraag is: Wat is jou reaksie op God se inisiatief en sy dade
van liefde vir jou? 1 Johannes 4:11 sê duidelik: “ Liewe vriende,
God het vir ons gewys wat ware liefde is. Ons behoort mekaar
ook so lief te hê.” Wanneer jy sê dat jy in God die Vader, en in
Jesus Christus, en in die Heilige Gees glo, dan sê jy per implikasie
daarmee dat jy die mense met wie jy elke dag in aanraking kom
ook so sal liefhê! Dit kan nie anders nie. Dit, en juis dit, is wie ‘n
kind van God is. Die Bybel sê so! Jy kan nie net vir die een kies
en nie vir die ander nie. Verstaan jy dit so?

Daar is eenvoudig net een waarheid: Glo in God en leef sy liefde
uit teenoor alle mense. God se Woord sê juis dít is jou identiteit,
en niks anders nie. 1 Johannes 4:20: “As iemand vertel dat hy God
liefhet, maar liefdeloos teenoor ‘n medegelowige optree, is hy ‘n
regte leuenaar. Dink net: As iemand nie eens die medegelowige
liefhet wat hy elke dag sien nie, hoe sal hy God kan liefhê wat hy
nie eens sien nie.” Hierdie vers sny diep. Dit plaas ‘n vraagteken
agter baie van ons dade as kinders van God.

Wanneer ons gehoorsaam is, en ander mense ook God se liefde
deur ons kan ervaar, het dit die wonderlikste effek op daardie
mense se lewens: Hulle begin God sien! God maak Homself aan
hulle sigbaar deur sý liefde wat deur ons vloei.
1 Johannes 4:12 stel dit so in Die Boodskap: “Niemand het God
nog ooit gesien nie. As ons egter mekaar liefhet, kan mense God
in ons lewe sien...” As ons mekaar liefhet, bly God in ons, en het
sy liefde in ons sy doel volkome bereik!

God word hierin verheerlik. Nie ons nie. God word sigbaar vir die
mense wat moed en uitsig verloor het. Of wat nog nooit uit die
duisternis na die wonderbare lig gekom het nie.
God het jou gekies. Hoekom? Omdat Hy jou eerste liefgehad het.
En nou moet jy kies om sy liefde te gaan uitleef. Dit is eintlik nie
‘n keuse nie, maar in Bybelse terme ‘n noodwendigheid.
‘n Ware kind van God leef God se liefde uit. Punt.

Ernest