Soms loop dinge in ons lewe net eenvoudig verkeerd.
Ons soek ook antwoorde daarop, maar kry dit eenvoudig
nie. Dit voel ook vir ons dat God ons nie hoor daaroor nie.
Ons voel eintlik om weg te kruip tot die storms oor is.

Dit is goed om dan selfondersoek te doen. Wie bepaal nou
eintlik die pad wat ek besig is om te loop? Wie is nou eintlik
besig om my lewe te beheer? Is dit die Heilige Gees, of is dit
eintlik maar ekself? Wat vorm op die oomblik die basis en die
vertrekpunt van my lewe en my besluitneming? Is dit God,
of is dit ekself?

Die Boodskap vertaal 1 Johannes 5:5 soos volg:
“Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se
verhouding met Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun
van God.” Ons kan nie verwag dat alles net goed sal gaan as
ons verhouding met God nie lewend is in Christus, die Seun
van God nie; nie reg is nie, soos die teks sê.

Dit geld tog ook ons aardse verhoudings. Wanneer ons nie tyd
en energie daaraan spandeer nie, loop die verhoudings sleg,
of loop dit selfs dood! Hoe lyk dit dus in jou verhouding met God?
Dit is uit hierdie lewensbelangrike verhouding waaruit ons waarlik
leef. Hierin alleen lê die ware sin van die lewe. Vers 3-4 sê:
“Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem
en uit te voer. Wat Hy van ons verwag is nie moeilik om te doen nie,
want elke kind in die familie van God is ‘n wenner, ‘n wenner oor
hierdie sondige wêreld. Die manier waarop ons die sondige wêreld
wen, is deur naby aan Jesus te leef.”

Dit is nie maar ‘n kitsoplossing of eenvoudige oplossing soos ‘n
resep nie, maar ‘n lewe van ware toewyding aan God onder leiding
van die Heilige Gees. En tog is dit ook so eenvoudig:
Om naby Jesus te leef!

Bogenoemde verse sê: Maak erns met God se opdragte. Voer dit uit
in elke situasie van jou lewe. Gee tyd en energie aan jou verhouding
met die Here. Dit sal jou laat onderskei wat vir Hom aanneemlik is.
So sal jy weet wat jy moet doen. Hierdie is nie ‘n paar verse van
goedkoop troos of oplossing nie. Al klink dit vir jou soos ou nuus,
dit is hierin wat die waarheid lê vir jou lewe. Wees eerlik met God,
want dit is in hierdie eerlikheid waar God, deur sy Gees, na jou sal
uitreik en jou insig en wysheid sal gee in jou krisis of probleem, of
onsekerheid. Ons dink ons “ken die Woord”, en hoef nie meer daarin
te “leer” nie. Die waarheid is egter dat die verhouding met God in sy
Woord en in gebed lê. Daar is ‘n verskil tussen kennis van die Woord
en die uitleef daarvan sáám met die Here!

Gee die volle beheer van jou lewe oor aan die Heilige Gees. Alles!
Galasiërs 5:25 sê hierdie belangrike waarheid: “Ons lewe deur die Gees;
daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal.” – NLV.

Ernest