Praat met vrymoedigheid met God.
Praat ook vol selfvertroue met God.
Is dit voor op die wa? Vrymoedig en
met selfvertroue?

Nee. 1 Johannes 5:14-15 sê: “Ons kan heeltemal
vry en vol selfvertroue met God praat. Immers,
as een van ons vir God iets volgens sy wil vra, kan
ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker,
dit is so goed of ons het wat ons van God vra.”

Is dit nie wonderlik nie! God is nie te besig vir ons nie.
Wanneer ek met God praat is dit asof dit net ek is met
wie Hy dan op daardie oomblik besig is! Dink mooi daaroor.
En meer nog. God gee ook die Heilige Gees om my te help as
ek met God praat! Onder leiding van die Gees wat my help
kan my woorde of gedagtes krom en skeef wees, en tog kom
dit deur die Gees reg by God uit! Dit is eenvoudig só groot!
Om net te dink hoeveel God vir ons omgee! Hoe lief Hy vir
ons is! God sal luister! Want sy Gees wat in jou is, dra die
boodskap oor!

Hoe kry ons reg om te bid “wat binne God se wil is”?
Hoe weet jy wat die regte dinge is om te vra? Wel, eerstens
moet ons in ‘n lewende verhouding met God leef. Gebed is
nie net eenrigting verkeer waar ek bid en God doen nie. Nee,
tyd en energie is nodig om God se wil in sy Woord te leer ken
en daarvolgens te leef en te vra. God vorm my gedagtes deur
sy Woord. Dit help my om te weet wat ek kan en moet vra.
Dit sal my help om te weet wat God se wil vir my lewe is,
en so sal my gebede binne God se “grense” bly.

God hoor jou! God sal help! Praat met God! Selfs al staan ons
net woordeloos by God, omdat ons nie mooi weet hoe en wat
om te bid nie, sal Hy ons help!
Romeine 8:26 sê in die Nuwe Lewende Vertaling: “Die Gees
van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid.
Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie. Maar,
die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met
versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie.”

God kan nie anders as om jou gebed te hoor nie.
Net omdat Hy vir jou só lief is!

Ernest